Splinternuwe fliek oor die Anglo-Boereoorlog vroeg volgende jaar op die grootskerm te sien
Ontberings, uithouvermoë, die dapper aanvaarding van 'n uitdaging en die trots van 'n nasie. Na groot geheimhouding kan fliekvlooie uiteindelik uitsien na die splinternuwe dramaprent Modder en Bloed.
Fliekvlooie kan uitsien na nog ’n Afrikaanse rolprent wat binnekort in teaters begin draai, maar dié keer is dit als behalwe romanties en prettig.
Modder en Bloed, ’n splinternuwe Afrikaanse fliek wat in die tydperk van die Anglo-Boereoorlog afspeel, sal van April 2016 af in teaters te sien wees en spog met ’n rolverdeling wat prominente plaaslike en internasionale sterre insluit.
Dark Matter Studios (Leading Lady) en Collective Dream Films (Platteland) het pas die vervaardiging voltooi nadat besonderhede rondom die produksie en rolverdeling lank in geheimhouding gehul was.

Modder en Bloed is die verhaal van Willem Morkel (Stian Bam), ’n boerekryger en gesinsman, wie se vrou en enigste kind gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) deur Britse soldate vermoor word. Willem word saam met ander boere-krygsgevangenes op St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan aangehou. Die Britse konsentrasiekamp staan onder die tirannieke beheer van Kolonel Swannell (Grant Swanby), ’n vuurvreter imperialis met ’n onblusbare haat teenoor die Afrikaner.
Boere-krygsgevangens word aan brutale geweld en onderdrukking onderwerp. Hulle word voortdurend deur die Britse bevelvoerder en sy soldate verneder in pogings om hulle emosioneel te knak en fisiek af te breek. Maar ondanks die ongekende marteling wat hulle moet verduur en die onmenslike ontberings wat hulle moet trotseer, word hul weerstand en soeke na vergelding, op watter manier ook al, net elke dag sterker. Met die bystand van sy mede-gevangenes aanvaar Willem ’n uitdaging wat uiteindelik sou lei tot soete wraak in die belangrikste rugbywedstryd van hul lewens.

Die fliek spog met ’n indrukwekkende rolverdeling met Suid-Afrikaanse en Britse rolprentpersoonlikhede. Plaaslike sterre sluit in Bok van Blerk, Albert Maritz, Michael Richard, Edwin van der Walt, Jacques Bessenger, Altus Theart, Albert Pretorius en Deon Lotz. Die Britste akteurs is Charlotte Salt (Beowulf/The Tudors), Patrick Connolly (Inferno/Crushed), Nick Cornwall (Blood Loyal/Retribution) en Josh Myers (The Sweeney/Anti-Social).
Vir meer oor Modder en Bloed, volg die rolprent op Facebook en Twitter. Modder en Bloed word uitgereik in samewerking met kykNET Films en die dti. Die fliek word op 1 April 2016 plaaslik vrygestel en deur Ster Kinekor Entertainment versprei.

ks/
