Bejaarde egpaar wreed aangeval

Die man het met die pistool in sy hand weer die sneller getrek en toe volg 'n klip wat na die twee weerlose bejaardes geslinger is.

Twee bejaardes is Dinsdag wreed in East Lynn aangeval en erg beseer toe hulle met ‘n klip in die gesig gegooi is.

Coen Vermaak (69) en sy vrou Rina (60) sukkel nou om snags te slaap. Hulle sê hul geswelde gesigte, kneusplekke en breuke is minder erg as die emosionele trauma wat hul bybly.

“Ons het die oggend geloop om ’n taxi te kry. Ons was nie seker of die stad se busse weer loop nie en ons moes by die ontvanger se kantoor uitkom,” vertel Coen.

Hy praat moeisaam met sy gebreekte kakebeen en die swelling in sy gesig. Rina sit langs hom – die regterkant van haar gesig erg gekneus.

Die egpaar het vroegoggend, omstreeks 04:30, die huis verlaat en het besluit op ’n kortpad deur Lammervangerstraat.

“My vrou kan nie baie ver loop nie. Sy het ’n operasie aan haar heup gekry en moet met twee krukke beweeg,” sê Coen.

Aan die einde van Lammervangerstraat moes hul net ’n grondpaadjie oorsteek om by die minibus-staanplek uit te kom.

“Ek was ’n paar tree voor my vrou toe ’n man verby my loop, skielik voor haar inspring en ’n pistool teen haar gesig druk.”

Coen vertel van sy skok en angs toe hy omdraai en die man die skietding op hom rig met die dreigement: “Ek sal julle doodskiet!”

“Hy het toe die sneller getrek,” onthou Coen met ‘n strak gesig. “Maar die skoot het nie afgegaan nie.”

Die gewapende man het weer sy pistool oorgehaal en weer het die vuurwapen geweier.

“Dis toe dat ek een van my vrou se krukke gryp en die man begin slaan,” vertel Coen.

In Coen se desperaatheid het hy die man onderstebo geslaan.

“Voor ons kon wegkom, het hy ’n klip opgetel, opgespring en my daarmee in die gesig gegooi.”

Coen het sy kakebeen hoor kraak en sy tande in sy mond voel breek.

Die aanvaller het die klip opgetel en weer na Coen gemik. Hierdie keer het hy misgegooi en die klip het Rina in die gesig getref.

Rina wys na haar bebloede regteroog. Sy dra ‘n bril en die steen het die glas in haar gesig gebreek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button