Groot nuus vir Leah

As Afrikaanse sangeres is sy besig om groot naam vir haarself te maak en nou het Leah nog groot nuus om met aanhangers te deel.

Dié blonde skoonheid, wie ons in die hoofrol teenoor Bobby van Jaarsveld in die fliek As Jy Sing leer ken het, gaan die temalied vir die Afrikaanse animasie fliek Die Sneeukoningin sing.

“Dit sal altyd vir enigiemand ‘n eer wees om die temalied te kan sing van ‘n film.  Omdat musiekteater in my bloed is, is hierdie vir my ‘n baie groot voorreg en ongelooflike geleentheid. Dit gee my ook ‘n kans om vir die eerste keer betrokke te wees by ‘n animasie film en nog in Afrikaans ook! Dit is wonderlik om geassosieer te word met hierdie fliek.  Ek wou natuurlik nog altyd ‘n prinses gewees het, so hierdie is seker naby genoeg?!” het Leah  kort na die aankondiging gesê.

Die liedjie getiteld, Flitslig, word gedurende die laaste week van Oktober 2015 bekendgestel en sal ook in die fliek gehoor kan word.

Die Sneeukoningin is ‘n internasionale animasie fliek wat vir die eerste keer eksklusief in Afrikaans deur Indigenous Film Distribution op 30 Oktober 2015 in Suid-Afrika vrygestel word.  Dit is gebasseer op die oorspronklike, klassieke sprokie deur Hans Christian Andersen, wat in 1845 vir die eerste keer gepubliseer is.

Talle bekende akteurs, onder andere, Bettie Kemp, Rina Nienaber, Karen Wessels, Pierre Breytenbach, Melt Sieberhagen, Heidi Mollentze, Antowan Nöthling en vele ander se stemme kan in die fliek gehoor word.

Die storie handel oor ‘n dogtertjie en seuntjie, Gerda en haar broer Kai, wat die stryd aansê tussen goed en kwaad.

Die Sneeukoningin wil graag ‘n nuwe wêreld skep waar dit altyd winter is en waar die ysige Poolse winde die mense se siele afkoel en die skoon, koue lyne van die winterlandskap, mense se emosies onderdruk.  Sy het die wêreld met ys bedek en beplan nou om alle kuns te vernietig.

Die pragtige tonele, klassieke verhaal en wonderlike, hoë gehalte animasie van die animasiemaatskappy, Wizart, sorg dat hierdie ‘n klassieke avontuurrolprent in 3D is wat ‘n internasionale gehoor sal bekoor.

Kyk hier na die lokprent:

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button