Steve Hofmeyr stel splinternuwe country-album bekend
If You Could Read My Mind bestaan uit 15 van die mooiste country-liedjies.

Sy loopbaan strek oor meer as 25 jaar maar van stilsit ken Steve Hofmeyr nie. Sy splinternuwe country album, If You Could Read My Mind, sy 28ste album sover, word binnekort uitgereik.
If You Could Read My Mind bestaan uit 15 van die mooiste country-liedjies en bevat ook ‘n pragtige en roerende verwerking van die liedjie Teach Your Children wat Steve saam met die gewilde Coleske-broers, Ewald en Arnold, opgeneem het.
Aanhangers kan uitsien na Steve se weergawes van treffers soos The Eagles se Heartache Tonight, The Gambler (bekend gemaak deur Kenny Rogers), Creedence Clearwater Revival se treffer Have You Ever Seen The Rain, Joe South se Games People Play, The Bellamy Brothers se If I Said You Had A Beautiful Body, If You Could Read My Mind deur Gordon Lightfoot en Gypsy Woman deur Don Williams.
Country lê dié gewilde sanger na aan die hart en oor sy jongste album is Steve baie opgewonde.
“Hierdie liedjies spook by ‘n mens. Ook die liedjies wat nie veronderstel was om ooit country te wees nie, het ons subtiel aangepas sodat hulle wel soos dié genre klink. Bob Dylan, Steve Perry en Cliff Richard sal waarskynlik vra hoe hul dit enigsins gemaak het op ‘n country-album. Wel, ons het. Niemand kan die sjarme van country weerstaan nie en baie min mense bly onaangeraak deur country se houvas op ons mees sentimentele instinkte.”
Die album is opgeneem en vervaardig deur Juan “Floors” Oosthuizen, wat in 2015 ‘n kykNET Ghoema-toekenning vir Beste Vervaardiger gewen het.
If You Could Read My Mind is vanaf 6 November 2015 op iTunes en landswyd in musiekwinkels beskikbaar en word deur Universal Music SA versprei.
Vir meer oor Steve Hofmeyr volg hom op Facebook, Twitter of besoek sy webtuiste.
