Hulle rock in Swartt & Witt
“Ons musiek klink nie soos al die ander sin nie,” sê Riekert heel dapper hier waar die manne by ‘n restaurant in Pretoria sit. Dit is Swartt & Witt - 'n nuwe Afrikaanse rock-groep wat beloof om Pretoria te laat brand.
Dit het alles in ’n restaurant in Pretoria begin.
Twee musikante het mekaar ontmoet en hul ritme en woorde het aanklank gevind.
Maande later het ’n onderwysstudent, wat met tromstokkies in sy hande gebore is, by hulle aangesluit.
En so is Swartt & Witt gebore. Net so uniek soos die nuwe folk-rockgroep se naam, is die manne agter die instrumente ook anders.
Nie jou tipiese vuilbaard, brulbaard, rock-en-rollers nie. Enige skoonma se droom; die manne.
Daar is Marcus Riekert. Op 30 is hy die oudste lid van die groep. Hy is ’n argitek wat eers as student begin kitaar slaan het, maar van kleintyd af liedjies geskryf het en in skoolkore gesing het. “Ek het myself leer kitaar speel. Ek het eers eenvoudig begin, drie note geleer. Die A, die D en die G. En toe het ek besluit om ’n roep te begin.”
Maar sy musiekpaaie moes eers met die van Chris Duvenage (29) kruis. Hy is die groep se akoestiese kitaarspeler, medesanger en liriekskrywer.
“Ek het al voorheen ’n sololoopbaan probeer, maar dit het nie uitgewerk nie.”
En dan is die derde lid van die groep Anrich Diedericks (24), ’n student wat sy onderwystande in die stadium aan Laerskool Wierdapark slyp, maar wat van musiek sy loopbaan wil maak. “Ek dink ek het my talent by my oupa geërf. Hy het in ’n hele paar boereorkeste gespeel.”
Nog ’n nuwe rockgroep in Afrikaans? Is daar nie te veel groepe wat opgang maak en dan iewers, soos die groep Wasserfall gesing het, in die groen dam van Pretoria-Wes duik nie?
Glaskas, Straatlig Kinders, Die Melktert Kommissie, Klopjag. Almal groepe wat gekom en gegaan het. Iets nuuts in Afrikaans probeer het en toe maar weer instrumente weggepak het.
“Ons musiek klink nie soos al die ander nie,” sê Riekert heel dapper hier waar die manne by ’n Pretoria-restaurant sit. “Ons het al ’n paar vertonings gehad en die mense hou van ons musiek. Ons is ook nie afhanklik van ons musiek om te oorleef nie. Ons doen dit omdat dit vir ons lekker is.”
Optredes by Cattle Baron in Centurion. Een wat voorlê by Café Barcelona en dan ook Firkin in Centurion.
“Ons musiek moet stories vertel,” sê Chris. “Ons leer só meer oor wie ons is, van mekaar en oor ons plekkie in die wêreld.”
Hulle musiek, sê die manne, is soos ’n swart-en-wit foto of soos ’n fotostaat. ’n Mens moet nie in techno-kleure na hul musiek luister nie.
Diederichs haal sy selfoon uit en speel een van hul liedjies, Swartt en Witt. Rou klanke en ’n eiesoortige heimwee. Hulle stemme heserig en anders.
Hulle beplan om teen Desember ’n enkelsnit uit te reik en teen volgende jaar ’n CD.
“Almal moet iewers begin en ons begin nou. Die media wil nie nou aan ons byt nie. Radiostasies nog minder, maar jare gelede wou niemand oor Dewald Wasserfall geskryf het nie. Nou kan die mense nie genoeg van hom kry nie.”
“Hou ons dop, knipoog hulle voordat hulle opstaan en loop, “ons gaan nog dinge in Pretoria laat gebeur.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
