Villieria se rooikop skryf toe haar eie boek
Lize Jacobs, 'n skrywer van Villieria, het pas haar debuutroman bekendgestel. Sy het met Rekord gesels oor die skrywerspad en haar liefde vir stories.
Lize Jacobs se pienk-geverfde tone loer by haar plakkies uit. Haar sitvlak wip-wip saam met haar rooi haredos as sy die motorhek oopmaak.
“Ek is senuweeagtig. Ek weet nie lekker hoe werk die media nie,” dimpel sy terwyl ons haar familiehuis, haar leefhuis, haar skryfhuis, in Villieria binnestap.
Die verf skilfer van die mure af. Die matte is deurgetrap. Haar pa, die bekende Paul Jacobs, ’n rolprentman uit die sewentigs, glimlag vanuit die foto’s teen die muur. Nou ook al vier jaar saliger.
Die huis kreun onder die lief en leed van die inwoners wat al dekades hier bly. Eers was dit Paul, sy vrou, twee kinders, sy tweelingbroer, die se vrou en sy kinders.
Nou het net vier van die familie oorgebly. Die ander het die nes verlaat of onder die bloekombome gaan rus.
Rinta Gertsen, ’n verloopte aktrise uit die sewentigs (selfs ’n rolletjie in die reeks Agter Elke Man gehad) skuifel die sitkamer binne. “Dis my ma,” stel Lize haar trots voor. ’n Voëltjievrou. Gekrimp deur die jare, maar geboetser deur ’n leeftyd se stories.
Dit is ook waar Lize (37) haar liefde vir stories geërf het – by haar voorsate. Haar aktrise-ma, haar rolprent-pa, haar skrywer-oupa.
En nou, uiteindelik na jare se geskryf, het sy ook ’n storie in boekvorm uitgegee. Lost in Chance. Nogal in Engels, wat nie haar moedertaal is nie, spog Lize. “Ek skryf in elk geval beter in Engels.”
Lost in Chance is ’n romantiese komedie wat handel oor ’n vaal onderwyseres, Chrisna van die Vrystaatse platteland, wie se verloofde haar voor die kansel los. Haar vriendinne samel vir haar geld in en koop vir haar ’n retoerkaartjie na Parys in Frankryk.
Die boek speel in Parys af – ’n stad waar Lize ook al ’n paar keer was.
Die resensente het die afgelope twee weke behoorlik gegons oor haar romantiese komedie. “Die karakters is aards en lekker. Die storielyn goed beplan. Blitsvinnige tonele,” het ’n boekblogger te kere gegaan. Jip, noem hulle haar, Suid-Afrika se nuwe chick-lit Engelse skrywer.
Sy gee die boek self uit, want sy wil nie hê haar manuskrip moet lê en stof vergaar in een of ander uitgewer se laai nie.
Lize het aan die destydse Technikon Pretoria se filmskool studeer en ken die lens van die kamera baie goed.
Rolprente en stories is ook haar lewe, beduie sy na die ingesinkte televisiekamer. Plakkate van rolprente pryk teen die muur. ’n Platskerm en derduisende DVD’s wat opmekaar gestapel is.
Sy het al baie kort films gemaak en ken die kuns van draaiboek skryf. Sy het ook al wyd gereis. En toe het sy verlede jaar besluit om groot te word en ’n ordentlike werk te kry.
“Die werk het met my skrywery begin inmeng,” haar hande dansend in die lug. “Ek het in 2008 al probeer om ’n boek te skryf, maar dit is blerrie moeilik om tonele te beskryf. Ek kan baie goeie dialoog vir rolprente skryf, maar ’n boek is heeltemal anders.”
Misty Mountain, haar eerste boek, was ’n dawerende mislukking. Toe los sy maar die skrywery, maar in November 2013 het sy aan ’n skrywersmarathon, wat op die internet aangebied word, deelgeneem. “Ek moes binne ’n maand ’n roman van 50 000 woorde skryf en toe begin ek met ’n nuwe storie.”
Sy het vir dae, vir maande in haar kamer, op die tweede verdieping, gesit en skryf. “As ek voor my lessenaar opgestaan het, het my karakters met my baklei. Hulle wou op papier lewe.”
En sowat ’n maand gelede was die boek klaar. Chrisna het haar held – nogal ’n Brit – gekry, die boek was geredigeer en sy het aan ’n bekendstelling begin reël.
“Chrisna het wel haar held gekry, maar ek het nog geen romanse in my lewe nie.”
Daar is nog baie stories in haar kop. Stories wat geskryf moet word. Soos haar tannie, wat met die helm gebore is, en wat met dwaalgeeste en spoke gekommunikeer het. En haar eie ma wie se helm diep weggebêre is sodat ’n toordokter dit nie in die hande kan kry en ’n vloek daaroor uitspreek nie.
En ja, Lize sal in die huis – haar ouerhuis – bly todat haar held ook eendag aan haar deur kom klop.
Om ’n boek te bestel, gaan na www.myebook.co.za
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 072 435 7717.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.
- We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.
