Klein Markus is by die huis
Tweejarige uit hospitaal ontslaan en terug by die huis.
Markus Vermaas, die tweejarige seuntjie van Centurion is uiteindelik by die huis nadat hy verlede week deur sy boetie uit ’n swembad gered is.
Sy ma Liza sê hy is weer sy vrolike, woelige self.
Sy bestempel sy vinnige herstel as ’n wonderwerk.
Markus het verlede Vrydagmiddag in die gesin se nuwe swembad geval en amper verdrink.
Sy sê die twee boeties word nie toegelaat om sonder toesig naby die swembad te speel nie.
Die twee was dié middag besig om met maatjies voor hul huis in ’n veiligheidskompleks te speel toe Stephan terug in die huis in hardloop om ’n opblaashaai uit die swembad te gaan haal.
Hy wou dit gebruik het om sy maatjies mee skrik te maak.
Liza het hom gesien en met hom geraas.
“Ek het gesien hoe ouboet uithardloop met die haai, met hom geraas en gesê hy moet dit gaan bêre wat dit gaan bars.”
In dié tyd het Markus ook na die swembad gehardloop om sy opblaasdolfyn te gaan haal. Dit is toe hy inval.
Sy sesjarige boetie Stephan, het hom gesien dryf en onmiddellik ingespring en hom uitgehaal.
Liza het histeries na haar seuns gehardloop en Markus probeer bybring.
Sy het betyds tot haar sinne kom en CPR op hom toegepas. Hy het vinnig bygekom en Liza het hom en Stephan in haar motor gelaai en Unitas-hospitaal toe gejaag.
Markus is daarna per helikopter na Garden City-hospitaal in Johannesburg se waakeenheid oorgeplaas.
Hy is ’n paar dae later ontslaan.
Liza sê die bouwerk om die swembad is nog nie voltooi nie, dus kon hulle nog nie die water met ’n seil toespan nie.
Markus en Stephan baljaar nou weer saam by die huis en glimlag albei weer breed.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

