Elvis Blue: Hoekom ek opgewonde is oor vanjaar se Innibos
Die gewilde sanger sal nie net sy nuwe album, Optics by die fees bekendstel nie, maar aanhangers op allerlei nuwe maniere vermaak.

Een van Suid-Afrika se gewildste sangers wat vanjaar weer op pad is na die Innibos-fees, Elvis Blue, sê hy wag jaarliks langs die foon vir dié uitnodiging.
Elvis, wat onlangs sy nuwe album, Optics vrygestel het, sien baie uit na dié fees wat op 29 Junie in die stad afskop.
Hy sal die Woensdag tydens die Huisgenoot afskopkonsert in aksie wees saam met onder meer Kurt Darren, Dewald Wasserfall, Adam en BlackByrd.
“Om op Innibos se hoofverhoog op te tree is een van die shows van die jaar,” het hy vir Nelspruit Post gesê.
“Ek en almal wat saam met my werk, wag elke jaar vir die oproep. Ek bespreek my musikante ook so vroegtydig moontlik, sodat ek die ouens kry waarmee ek wil werk – sodat ek my beste voetjie voor kan sit.”
- Lees meer oor vanjaar se Innibos-fees hier.
Ten spyte van al sy sukses – mees onlangs ‘n Ghoema-toekenning – beskou die voormalige Idols SA-wenner dit as ‘n geleentheid om nuwe mense wat nie sy musiek ken of hom al gesien optree het nie, aan sy kuns bloot te stel.
Hy word ook beskou as een van die hardwerkendste kunsternaars in die bedryf. Optics is sy eerste Engelse CD in drie jaar, na twee Afrikaanses.
“Ek is opgewonde om weer iets in Engels te doen. Ek geniet dit om in ‘n ander taal te skyrf. As ek in nóg ‘n ander taal kon sing, sou ek,” lag hy.
Vanjaar sal Elvis ook vir die eerste keer by die Sappi Boeke-crawl op die fees te sien wees, saam met niemand anders as die skrywer Marita van der Vyver nie.
“Ek is baie lucky,” sê hy. “Sy gaan van haar werk lees, en ek gaan van my musiek speel.
Ek dink letterkunde en skryfkuns en musiek gaan goed saam.”
Hy sê hy fokus op mense se gedeelde ervarings wanneer hy liedjies skryf.
“Alles wat ek skryf gaan oor die dinge wat alle mense voel soos liefde, begeerte, seerkry en familiesake – en as jy dit goed doen, raak jy hopelik mense daarmee. Dit is wat musiek so wonderlik en powerful maak.”
• Die afskopkonsert vind vanaf 18:00 op Woensdag 29 Junie op die Innibos-feesterrein plaas. Die Boeke-crawl is Donderdag 30 Junie by die Sudwala-grotte.
