Yolandi Lubbe ‘n SA Schools ambassador-finalis
SA Schools 2016/2017 ambassador-finalis van Hoërskool Waterkloof.
Yolandi Lubbe (16) is ’n finalis in die SA Schools 2016/2017 ambassador-kompetisie.
Die Hoërskool Waterkloof-leerling is mal oor haar skool en is ’n trotse ambasadeur vir haar skool. Sy sê dat sy baie opgewonde was toe sy aangewys is as finalis.
Lubbe sê sy het ingeskryf vir die kompetisie omdat sy ’n platform wil skep vir kinders van haar ouderdom om vir hulle te wys dat hulle wel ’n verskil in iemand anders se lewe kan maak.
“Ek het as kind ‘n groot tekort aan selfvertroue gehad en was baie stil, skaam en teruggetrokke. Ek is aangemoedig om modelklasse by te woon in gr 7. In die drie en ‘n half jaar wat ek dit doen is daar ‘n groot verskil,” sê sy.
“Ek het geleer om in myself te glo en myself te aanvaar vir wie ek is. Dat ek ‘n kind van die Here is en daarom uniek is,” voeg sy by.
Lubbe is mal oor hokkie en teken. Soos enige ander tiener hou sy daarvan om mooi te lyk en saam met haar vriende te kuier. Sy luister ook graag na musiek en hou daarvan om video’s te kyk.
Op 1 Oktober gaan sy ’n geldinsamelingsprojek by Tshwane-streekhospitaal hou. Al die geld gaan aan Cansa TLC geskenk word.
Die doel van die SA-skole-ambassadeurskompetisie is om jong Suid-Afrikaanse skoolseuns- en meisies te bemagtig met die nodige kennis en vaardighede om ’n ambassadeur vir hul skool te word.
Vir meer inligting oor die geldinsamelingsprojek kontak 060 874 3808 of 079 509 9556.


