Retief Burger stel nuwe album vry
Lees bietjie meer oor Retief Burger se nuutste projek in die musiekwêreld.

Alles is Retief Burger se splinternuwe treffer Christen- en gospelalbum, wat in Oktober vrygestel is.
Die meesterstuk is al ongeveer ’n jaar in die werke en Retief beskryf dit as sy beste album tot dusver.
“Die album is ’n kombinasie van dinge wat in my lewe aangaan en gebeur het, ek voel ek wil my lewe, alles in my lewe vir die Here gee, net soos Hy alles vir my gegee het en die album is ’n testament daarvan,” verduidelik hy.
“So jaar terug het ons ’n ongelooflike samekoms van Christene van ongeveer 20 verskillende lande in die Fillipyne gehad, ons was 40 gemeente leiers bymekaar wat saam stories gedeel het, ons het saam musiek geskryf, dit was fantasties,” sê hy.
“Ons het soveel blootstelling gekry, soveel nuwe insette, en my nuuste musiek kom verseker van daardie ervaring af.”
Burger het ook verlede jaar pappa geword van ’n pragtige seuntjie en verwys na sy gesin as sy ondersteuningsnetwerk.
“My vrou ondersteun alles wat ek doen, sy is net so lief vir die Here.”
LEES OOK: Pretoria ‘ystermanne’ begrawe
Die terugvoer wat hy tot dusver ontvang het, was meestal positief.
Sy uiteindelike doel is dat die musiek in kerke gespeel word.
“Dit is waarvoor hierdie 13 splinternuwe liedjies geskryf is. Sommige mense sukkel om te kommunikeer met die Here, hulle wil iets sê, maar weet nie heeltemal hoe nie,” verduidelik hy.
“Die doel van hierdie album is sodat dit mense nader aan die Here kan bring, ek wil hê mense moet daarmee kan identifiseer en saamsing in die kerk.”
Burger is voltyds betrokke by Every Nation, sy plaaslike gemeente in Pretoria, waar hy as senior leraar dien.
Hy spandeer ook gereeld tyd met aanbiddingspanne en die leierskap van plaaslike gemeentes, veral rondom die tema van dissipelskap.
Alles is by enige CUM Boeke en Musica beskikbaar en is ook op iTunes en Spotify te kry.
Vir meer inligting oor sy optredes tot die einde van die jaar, besoek sy Facebook-blad hier.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
