KOMPETISIE: Storieboeke vir jou Kersvakansie
Twee boeke kan vandag gewen word.
Is jy versot op fiksie?
Dan is hierdie kompetisie vir jou.
Rekord het ‘n reeks storieboeke om weg te gee om jou vakansie te verryk met verhale oor verhoudings, spanning, avonture en vriendskap.
So lyk die titels:

Die einde van die storie
Santie van der Merwe
R230.00
Apatie het in hulle huwelik ingesluip en ’n sluwe derde huweliksmaat geword. Dit het al hoe groter geword, gevoed deur die stiltes tussen hulle wat langer geword het” (bladsy 8). “Ek het jou nie meer lief nie.”
Uiteindelik kry Lizzie dit gesê ná ’n huwelik van 28 jaar. Nie oor ’n ander man nie, nie oor hy lelik is met haar nie, net oor daar niks meer tussen hulle is nie.
Dis asof sy en Marthinus alles weet van huise bou – hy bou regte huise en sy pophuise – maar hulle eens dierbare huis het sonder ’n enkele slag inmekaargestort.
Dat dit haar man nie skok nie maar hom hoogstens in ’n besonder slegte bui laat, is nog erger. Marthinus praat mos nie, nie oor sulke goed nie.
Lizzie weet sy is nie die mooiste vrou wat hy ken nie, onder andere omdat sy nie juis sukses gehad het met al die diëte wat sy al probeer het nie. Haar aankondiging laat nie almal sonder woorde nie.
Hul enigste kind begin haar soos ’n irriterende vreemdeling behandel. Ja, en dan is daar Lizzie se eienaardige naweek in die Bosveld tussen nog eienaardiger mense… Sy kan sterf van skaamte. Bied so iets vir ’n man stof tot nadenke? Met Marthinus sal mens nooit weet nie.

Paaiboelie
Chanette Paul
R280.00
Chanette Paul se ondersteuners sal bly wees om te hoor Jojo Richter van Siende blind, Raaiselspieël en Ewebeeld is terug.
Hierdie enigmatiese privaat-ondersoeker word gehuur om uit te vind wat werklik sewe jaar gelede in die skatryk Eduard Swiegelaar se studeerkamer gebeur het.
Hy is daardie dag, ten aanskoue van sy heelwat jonger, sexy trofeevrou, Zaan Mentz, doodgeskiet.
Zaan het ’n redelike rykdom verkry toe haar ouer man dood is, en daarom trek sy in op Crystal Crags, een van die mees eksklusiewe landgoedere in die land.
Haar keuse van dié landgoed hang saam met die puik sekuriteit, want sy weet wat in daardie studeerkamer gebeur het, en sy vrees vir haar lewe.
Dit neem egter nie lank voor Jojo en Zaan agterkom dat vreemde goed ook binne die veilige mure van Crystal Crags gebeur nie. Is dit toe te skryf aan die bonatuurlike?
Die plaaslike inwoners vertel graag dat die landgoed binne die Duiwelsdriehoek lê, ’n plek waar dinge en mense sommer wegraak.
Die stories loop dik, en hoe dieper Jojo grawe, hoe meer besef sy iets is nie pluis nie. Terwyl Jojo die geheim van ’n enkele oggend se gebeure ontrafel, dobber die geheime, wat vir langer as ’n honderd jaar op Crystal Crags verswyg is, geleidelik boontoe.
Zaan staan skielik in die brandpunt. Hoe lank sal dit duur voor haar veilige blyplek ’n tronk word waaruit sy nie kan ontsnap nie?
Chanette Paul het reeds in verskeie genres gepubliseer, maar met haar spanningsromans, wat sedert 2007 verskyn, vind sy werklik haar nis en toe Jojo Richter egter haar buiging maak in Siende Blind, Raaiselspieël en Ewebeeld, is Chanette se goeie posisie in die Afrikaanse spanningswêreld bevestig.
Die storie staan sentraal, maar vir die ernstige leser is daar allerlei weggesteekte lekkernye wat tussen die verweefde storielyne verpak word.
KOMPETISIE:
Twee lesers het ‘n kans om elk een van hierdie titels te wen. Om in te skryf vir die kompetisie, vul die inskrywingsvorm in en gebruik die sleutelwoord ‘FIKSIE2’.
