OPVOLG: Skokkende inligting oor Moot oud-polisieman se moord
“Ek kon dit nie wegkry nie, daarom het ek die kamer aan die brand gesteek.”
Sy het met haar nuwe kêrel omgang gehad op die bed waarin die vorige een se lyk weggesteek was.
Dit was die getuienis van Estelle Reddy Dinsdag in die landdroshof in Pretoria.
“Ek het my lyf gegee om myself te beskerm,” het sy gesê.
Reddy, Gerhardus Papenfus, Kevin Johnson en Ruvan Regionald Furst word aangekla van die moord op oud-polisieman Danie Dreyer.
Hulle staan ook tereg op roof met verswarende omstandighede nadat Reddy ’n week na Dreyer se dood ’n bekentenis by die polisie gaan aflê het.
Volgens haar bekentenis het drie mans Dreyer probeer beroof en het hy ’n hartaanval gekry waarby Papenfus hom noodbehandeling probeer gee het.
Sy het getuig dat sy sy só bang vir haar kêrel Papenfus was dat sy enigiets sou doen om vir hom te wys dat sy niks sal sê nie.
Lees Meer: Derde verdagte aangekeer in Dreyer-moordsaak
Dit was glo toe dat hulle gemeenskap gehad het kort na Dreyer se beweerde moord.
Reddy het gesê Papenfus het haar teen die muur gedruk en gesê hy sal haar doodmaak as sy iets sê.
Dreyer se lyk is op 4 April 2016 in ’n mangat in Flowerstraat gekry.
Die vier se aansoek om borgtog is in Mei verlede jaar geweier.
Reddy het speurders na ’n adres in Flowersstraat gelei waar Dreyer se lyk in ’n mangat gelaat is.
Papenfus, Johnson en Furst het glo sy lyk daarheen gebring.
Nadat Dreyer gesterf het, is sy lyk eers vir drie dae in die basis van die bed versteek.
Suur is toe glo oor die lyk gegooi in ’n beweerde poging om van bewyse ontslae te raak.
Papenfus is kort na die vonds van Dreyer se lyk vasgetrek terwyl Johnson op 6 April in Eersterust in hegtenis geneem is.
Lees Meer: Dreyer moordsaak gaan voort
Furst het homself op 12 April aan die polisie oorhandig.
Reddy het Dinsdag in die hof gesê dat sy en Dreyer vriende gebly het nadat hulle verhouding beëindig is.
Sy het teen die einde van 2015 weer by sy huis ingetrek omdat sy van haar man wou skei.
In Februarie 2016 het sy Papenfus ontmoet.
Reddy sê sy wou Papenfus help om sy lewe reg te ruk nadat sy teen hom gewaarsku is.
“Papenfus wou toe op ’n dag by my geld leen,” het sy gesê.
“Ek het toe gesê dat Dreyer my nog geld skuld en dat ek vir hom sou vra om dit vir hom te gee.”
Sy sê Papenfus is toe na Dreyer om die geld te gaan haal.
“Soos wat ek verstaan, het hy geweier om die geld vir hom [Papenfus] te gee,” sê sy.
Reddy sê Papenfus was woedend.
“Hy het na die tyd gevloek en geskree en gesê hy sal Dreyer sommer doodmaak,” sê sy.
“Ek het gedink hy blaas net stoom af.”
Op 27 Maart is Reddy na ’n verlowingspartytjie waar sy sou oorslaap.
“Dreyer sou my soontoe vat, maar hy het gesê dat hy te moeg was en dat ek sy kar moet vat om te ry,” sê sy.
Maar Papenfus het gevra dat Reddy eers by hom moet stilhou omdat hy die voertuig glo wou gebruik om iemand te help trek.
Sy het dit toegelaat omdat sy gedink het die motor sou veiliger in sy erf wees.
“Hy het my by die partytjie afgelaai en met Dreyer se kar weggery,” sê sy.
Sy sê Papenfus het haar die volgende dag gebel vir die kodes van Dreyer se bankkaarte.
“Ek het dit vir hom gegee want ek was bang dat hy by Dreyer was en hom martel,” vertel sy.
Papenfus en die twee ander beskuldiges het Reddy later kom oplaai en haar vertel van Dreyer se dood.
“Hy het gesê hy is bly ek reageer so kalm, anders sou hy my ook moes doodmaak en my babaseuntjie leed aandoen,” sê sy.
Sy sê Papenfus het haar beveel om die toneel op te ruim.
“Daar was bloedspatsels teen die muur en bloedplasse op die mat,” sê sy.
“Ek kon dit nie wegkry nie, daarom het ek die kamer aan die brand gesteek.”
Die verhoor hervat op ’n datum wat later aangekondig sal word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
