SKOOL: Laerskool Louis Leipoldt top landloopskool in Centurion

“Landloop leer kinders van jongs af ’n gesonde leefstyl van oefening en om in die wedloop van die lewe altyd jou persoonlike beste te hardloop.”

Die Noord-Gauteng landloopspan wat op 8 September aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Port Elizabeth gaan deelneem, is die afgelope week bekendgemaak en met ’n rekordgetal van 13 atlete wat ingesluit is, is Laerskool Louis Leipoldt die top landloop-laerskool in Centurion.

Kort op hulle hakke is Laerskool Hennopspark en Laerskool Wierdapark met 12 atlete elk.

Die groep atlete van Laerskool Louis Leipoldt sluit onder andere ’n tweeling broer en suster, LD en Li-Mari Dekker (13) en hulle kleinsus, Minke Dekker (9) in.

Dit sal die derde keer wees wat hierdie drie so saam-saam hulle provinsie verteenwoordig.

Li-Mari het nog elke jaar vandat sy in 2013 met landloop begin het, die ligblou-sweetpak en daisy op haar bors gedra met podium-posisies by die SA Kampioenskappe in 2014 en 2016.

Sy was ook in 2014 die 1 200m-SA-kampioen en is die huidige 1 500m-dogters o.13-SA-kampioen.

Li-Mari se verskeie prestasies is die vrug van konstante harde werk en groot opoffering met tussen ses en nege oefensessies per week.

LD het ’n rustiger aanslag en reken landloop is net ’n lekker manier om fiks te bly vir sy eintlike voorkeur sport: bergfietsry.

Kleinsus Minke was eintlik ’n jaar jonger as die ander atlete toe sy die eerste keer in graad 1 die Noord-Gauteng span gehaal het.

Hierdie jaar het die skool sommer drie graadeens wat ook die span gehaal het.

Daar is ook ’n paar ouers so saam met hulle kinders in die span: Dieneke Beukes (10) en haar pa Gerhard Beukes en Izelle Nel (10) en haar pa, Gerrie Nel asook Adrian O’Kelly (10) wie se pa, Douw O’Kelly vroeër vanjaar deel was van die Noord-Gauteng landloopspan wat aan die Interprovinsiale byeenkoms in Zeerust deelgeneem het.

Die landloop-organiseerder van Laerskool Louis Leipoldt, Anna-Marie Pretorius se seun Jean-Pierre Pretorius (13) en dogter Clarissa (15) is ook beide in die span.

“Ons is dankbaar vir die geleentheid wat hierdie 13 atlete kry om op nasionale vlak te gaan deelneem, maar vier ook elkeen van die ander 60 atlete wat getrou hard geoefen het en dalk kleiner persoonlike oorwinnings behaal het,” sê Anna-Marie wat elke kind se vordering met ’n fyn oog dophou.

“Landloop leer kinders van jongs af ’n gesonde leefstyl van oefening en om in die wedloop van die lewe altyd jou persoonlike beste te hardloop.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button