Stiltetyd : Aanvaar mekaar ‘ten spyte van’ verskille
Dit was een van die koudste winters, so vertel die storie, in menseheugenis en baie diere het as gevolg van die koue gesterf

Die ystervarke was egter gelukkig. Onder hulle was daar ’n wyse een wat voorgestel het dat hulle bymekaar kom en styf teen mekaar lê.
Hulle het dit begin doen, maar gou het hulle penne die naaste aan hulle begin seer maak.
Dit het al hoe moeiliker geword en hulle rusies hieroor al hoe groter.
Uiteindelik het sommiges besluit om hulle eie gang te gaan… en het hulle weer begin sterf, koud en alleen.
Dit het die ander voor ’n baie eenvoudige keuse gestel: leer om met die penne van hulle naby aan jou saam te leef of verloor alles.
Salomo skryf dit so waar in Prediker 4:9-10: “Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.
“As die een val, kan die ander hom ophelp.
“Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.”
Ek dink nie ons het al in sulke uitdagende tye soos nou geleef nie. Covid, ekonomie, werkloosheid en vrees.
Ons mag nie nou toelaat dat politici, godsdiens en ander verskille ons uit mekaar dryf nie.
Die lewe gebeur nie nou wanneer volmaakte mense by mekaar kom nie, maar wanneer ons leer om die waarde van die andereen raak te sien en met mekaar se onvolmaakthede saam te leef.
Lewe kom wanneer ons vir mekaar sê ek kan nie sonder jou leef nie… ten spyte van…

Die winter in ons land is tans koud, baie koud.
Gelukkig is daar langs jou op die bank, oorkant jou in die kantoor en onder in die straat genoeg mense om jou te help om te leef… ten spyte van hulle andersheid.
Gaan stap en leef nou nader!
