HTS John Vorster blink uit

HTS John Vorster het dit weer gedoen! Vir die tweede jaar agtereenvolgens spog ons met 'n 100% slaagsyfer. As die enigste skool in die Moot wat hierdie mylpaal behaal het, het ons leerders bewys dat geen uitdaging te groot is nie.

Van HTS John Vorster se kant af is ons ongelooflik dankbaar en bly oor ons 164 matrieks se puik matriekuitslae. Die doel van skool is tog om aan die einde van die dag elke matriek die wêreld in te stuur met ‘n matrieksertifikaat in die hand en ons kan met dankbaarheid sê dat ons daardie doel vir die tweede jaar in ‘n ry bereik het.

Dit is vir ons nog meer spesiaal, want as tegnologiese skool stel ons beslis die eise nog hoër vir ons leerders, aangesien almal Wiskunde en Wetenskap moet hê. HTS John Vorster is nie net die enigste skool in die Moot wat 100% slaagsyfer behaal het nie, maar boonop het ons ‘n 100% slaagsyfer in Wiskunde ook behaal. Dit is ‘n merkwaardige prestasie. Dit het beslis harde werk geverg, maar by HTS John Vorster staan nooit terug vir ‘n uitdaging nie. Ons weet dat Wiskunde en Wetenskap, tesame met ons kombinasie van tegnologie-vakke deure oopmaak.
Ons is ook baie trots en bly dat 64% van ons matrieks geslaag het met Baccalaureus-vrystelling. Ons leerders is beslis gereed vir hul toekoms. Ons matrieks spog ook met 116 onderskeidings. Vyf meer as die vorige jaar.

Ek glo julle kan verstaan hoekom ons bestuur in ekstase is. Ons gaan beslis voortbou op hierdie wonderlike prestasie. Ons matrieks het net weereens vir ons gewys wat dit beteken om ‘n GENUINE-JV te wees. Ons sal hierdie mooi uitslae vir nog lank vier. Dankie KLAS VAN 2025! Julle verdien hierdie mooi uitslae!


• Minieke Swart het 7 onderskeidings behaal en is ons DUX-leerling vir 2025.


• Jeandre Kruger het ook 7 onderskeidings behaal (asook ‘n onderskeiding in Alpha Wiskunde)


• Ons hoof, mev. Dowd, is bederf met ‘n 100% koek ter viering van ons matrieks se mooi uitslae.


• Ons adjunkhoofde, tesame met die hoof was in ekstase oor ons matrieks se mooi uitslae. Van links na regs: Mnr. Peet van der Westhuizen, Mev. Esra Olwage, Mev. Antoinette Dowd, Mnr. Christo du Rand en Mnr. Jurg Swart.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button