Entertainment

Tussen algoritme en hartklop vind KI-liedjies ‘n eie plek

Nuwe terrein word betree met ’n toegewyde KI-afdeling waar kunstenaars soos Blixim Straat die balans tussen tegnologie en egtheid ondersoek, en jong skeppers uitdaag om hul eie stem te behou in ’n vinnig veranderende musieklandskap.

Die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie het binne ’n kort tyd ’n spilpunt geword vir nuwe Afrikaanse musiek, en vanjaar se uitgawe brei dié invloed verder uit met die insluiting van ’n toegewyde kunsmatige intelligensie-afdeling.

Ná ’n sterk debuutjaar met talle opwindende inskrywings, het die organiseerders besluit om nie tegnologie te stuit nie, maar dit eerder rigting te gee.

Teen hierdie agtergrond tree kunstenaars soos Blixim Straat en Jakkals Vibes nou as beoordelaars op, met die fokus om kreatiwiteit én verantwoordelike gebruik van tegnologie te balanseer.

Die besluit om ’n KI-kategorie te skep, weerspieël ’n breër skuif in die musiekbedryf waar tegnologie toenemend deel word van die skeppingsproses.

Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, gaan dit nie net oor aanpassing nie, maar oor vooruitdenke.

Hy beskryf die nuwe afdeling as ’n ruimte waar jong kunstenaars kan eksperimenteer sonder om hul eie stem prys te gee.

Die doel is om deelnemers toe te rus vir ’n toekoms waarin kreatiwiteit en tegnologie hand aan hand beweeg, eerder as om in spanning met mekaar te probeer saamleef.

Pieter Groesbeek aka Blixim Straat Foto: verskaf

Rekord het Blixim Straat oor sy perspektief rondom KI-kreatiwiteit uitgevra.

Die kunstenaar, wie se regte naam Pieter Daniel Groesbeek is, het die afgelope twee jaar vinnig naam gemaak met sy unieke liedjiestyl wat humor, skerp waarneming en tegnologiese vernuf kombineer.

Een van sy gewildste liedjies is Sy is op haar mooiste in my geskeurde t-shirt. Ander bekendes is: As jy kwaad is vir my en Jy’s moeilikheid.

Sy insluiting op die beoordelaarspaneel bring ’n stem na vore wat self daagliks met die grense van KI werk en toets.

“Ek sien KI as ’n instrument, nie ’n kunstenaar nie,” sê hy. “Die lyn in die sand tussen die twee is vir my eenvoudig: as die idee, emosie en boodskap van my af kom, is dit KI-bygestaan (assisted). As jy net ’n knoppie druk en vat wat uitkom, is dit KI-gegenereer.”

Hierdie onderskeid lê aan die hart van die nuwe afdeling en dien as riglyn vir deelnemers wat dikwels onseker is oor waar kreatiewe eienaarskap begin en eindig.

Blixim beklemtoon dat sy eie lirieke altyd uit sy persoonlike ervaring spruit.

KI, verduidelik hy, help hom net om idees vinniger te realiseer of om klanklandskappe op nuwe maniere te bou.

“Dit neem nie kreatiwiteit oor nie, maar dwing jou om meer doelbewus te fokus op die kern van ’n lied soos die emosie, storie en boodskap.”

Hierdie fokus op inhoud bo tegniek is iets wat hy glo die beste inskrywings in die kompetisie sal onderskei.

Sy loopbaan het ook gewys hoe vinnig sukses in die digitale era behaal kan word.

Met ’n treffer wat boaan aanlyn platforms gepryk het en ’n groeiende gehoor, het hy eerstehands ervaar hoe tegnologie ’n kunstenaar se bereik kan versnel.

Tog waarsku hy dat roem nie oornagsukses beteken of volhoubaar is nie.

“Aandag kom vinnig en verdwyn vinnig. Die gegons (hype) rondom jou musiek beteken niks as jy nie goeie musiek kan lewer nie,” sê hy.

Hierdie nugtere siening word versterk deur sy ervaring van oomblikke waar KI te veel oorgeneem het.

“Jy voel dit dadelik,” erken hy. “Dit klink tegnies reg, maar dit voel leeg. Dan gooi ek dit weg of begin oor.”

Vir hom is egtheid die toetssteen, en dit is iets wat geen algoritme kan namaak nie.

“KI kan styl naboots, maar nie lewenservaring nie. Jy kan nie egtheid kunsmatig genereer nie.”

Blixim se benadering tot musiek is gedeeltelik gevorm deur die tydperk wat hy in Pretoria gewoon het.

Hy glo die kreatiewe energie in die land se hoofstad funksioneer anders as in ander dele van die land.

Hy onthou sy dae in Hatfield in die vroeë 2000’s as vormend, ’n plek waar hy kon sien wat mense werklik geniet en waar kunstenaars moes leer om uit te staan.

Hy beskryf Pretoria ook as ’n stad wat kunstenaars eerlik hou.

Anders as plekke waar ’n gegons rondom produkte, handelsmerke en musiek ’n groter rol speel, gaan dit in Pretoria, volgens hom, meer oor opregte reaksie van gehore.

Hierdie ingesteldheid het sy eie styl beïnvloed en hom gehelp om ’n balans te vind tussen vermaak en betekenis wat hom nou goed te staan kom.

Hy noem sy eerste vertoning as Blixim Straat in Kameeldrif-Wes as ’n keerpunt.

“Dit was rou en real. Ek het nie geweet wat om te verwag nie, maar ek het vinnig besef daardie aand gaan die begin wees van iets groter as myself.”

Hierdie ervaring het sy selfvertroue versterk en sy benadering tot optredes en musiekskepping beïnvloed.

Ten spyte van sy tegnologiese ingesteldheid, is daar duidelike grense wat hy nie bereid is om oor te steek nie.

“Ek sal nooit my storie of my waarheid uitkontrakteer nie,” sê hy. “KI kan help met klank, maar nie met wie ek is of wat ek probeer sê nie.”

Hierdie standpunt onderstreep die sentrale boodskap van die Skryf’it-kompetisie se nuwe rigting: tegnologie moet dien, nie oorheers nie.

Hy is ook eerlik oor die kritiek wat dikwels teen KI-musiek gerig word.

Wat hom die meeste frustreer, is dat mense dit afskryf sonder om dit werklik te probeer verstaan.

Hy vergelyk dit met historiese reaksies op nuwe tegnologieë en wys daarop dat elke generasie sy eie weerstand moes oorkom.

Vir hom is KI nie ’n bedreiging nie, maar ’n hulpmiddel wat, indien dit reg gebruik word, nuwe kreatiewe moontlikhede ontsluit.

– Om meer van die kompetisie te wete te kom, besoek https://www.skryfit.co.za/. Die sluitingsdatum is 30 April. Die pryse is R100 000 in totaal.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button