Aktrise droom steeds groter op verhoog
Ná meer as twee dekades in die vermaakbedryf bly Nadia Beukes nuwe uitdagings aanpak. Die aktrise, aanbieder en stemkunstenaar vertel hoe geloof, familie en ’n passie vir storievertel haar motiveer terwyl sy na nuwe TV- en teaterprojekte uitsien.
Nadia Beukes, een van die bekendste gesigte in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf, sê haar passie vir storievertelling oor verskillende mediums bly haar steeds inspireer en motiveer ná jare in die bedryf.
Sy is tans te sien in die musiekblyspel Ons vir Jou by die Afriforum-teater in Pretoria tot en met 21 Junie.
Beukes beskryf haar loopbaan as ’n voorreg en sê die geleentheid om as aktrise, aanbieder, stemkunstenaar en sangeres te werk, is iets waarvoor sy diep dankbaar is.
“Die geleentheid om in verskillende mediums stories te vertel, maak my nog steeds opgewonde, hetsy as aktrise, as aanbieder, as stemkunstenaar.”
Volgens haar bied die plaaslike vermaaklikheidsbedryf kunstenaars die unieke kans om sulke uiteenlopende rolle te vervul.
“Ek dink nie dit is noodwendig so in al die lande nie. Mense spesialiseer in hulle vaardighede, maar hier by ons het ons die geleentheid om in verskillende mediums te werk.”
Beukes het in Centurion gematrikuleer voordat sy ’n honneursgraad in kommunikasie en bemarking aan die Universiteit van Johannesburg verwerf het. Sy het ook formele opleiding in drama, stemwerk en klopdans ontvang.
Haar loopbaan sluit rolle in gewilde TV-reekse in, en op die verhoog was sy deel van talle blyspelproduksies.
Sy sê elke nuwe geleentheid bring waardevolle lesse.
“Ek is so diep dankbaar vir geleenthede, want elke geleentheid is ’n groeigeleentheid. Elke karakter wat ek vertolk leer my nuwe lesse. Elke nuwe medium het sy uitdagings. Dit hou my aan die gang.”
Hoewel haar loopbaan talle hoogtepunte ingesluit het, besef sy hoe belangrik dit is om haar gesin eerste te stel.
“Ek kry dit nie altyd reg om al die balle in die lug te hou nie, maar dan herinner dit my aan die ding wat Rolene Strauss gesê het. Mense het glasballe en rubberballe. Rubberballe kan maar val, want hulle gaan weer terugbons, maar ’n glasbal moet jy versigtig hanteer. My gesin, my man, my kinders en my gesondheid – dit is my glasballe.”
Sy is sedert 2016 met die sakeman David de Villiers getroud. Die egpaar het twee seuns, Davey en Joshua en woon in Pretoria-oos.
Volgens Beukes speel haar gesin ’n belangrike rol in haar sukses.
“Ek kies die regte rol op die regte tyd, mits dit binne die struktuur van my gesin kan werk. Hulle is verskriklik ondersteunend en as ek op die verhoog speel in ’n lang speelvak soos nou, staan my man 100% in met al hul versorging.”

Sy kyk reeds vooruit na nuwe projekte wat later vanjaar bekendgestel sal word.
“Vorentoe is daar TV-geleenthede waaroor ek opgewonde is en bietjie teaterwerk waaroor ek ook opgewonde is.”
Beukes sê sy werk ook aan projekte agter die skerms wat fokus op handelsmerkontwikkeling en strategie. Terselfdertyd volg sy die veranderinge wat wêreldwyd in die vermaaklikheidsbedryf plaasvind.
“In die huidige landskap van die vermaakbedryf wêreldwyd is daar klomp veranderinge wat plaasvind met kunsmatige intelligensie en ons moet aanpas. Ek kom egter agter mense het nog steeds ’n behoefte aan ’n in-die-oomblik ervaring.”
Sy glo teater bied juis daarom steeds ’n unieke geleentheid om mense te raak.
“Ons sien dit hier met die huidige speelvak as ons waarneem hoe mense die stuk ervaar. Dit maak dit vir my lekker en laat dit voel asof ons ’n doel en roeping het, want dit kan iemand inspireer en vir iemand iets beteken.”
Vir Beukes het haar huidige rol in die blyspel besondere betekenis. Sy was 18 jaar gelede deel van die ensemble van juis só ’n produksie van Ons vir jou, terwyl haar pa, Rouel, destyds ’n hoofrol vertolk het.
“Wat vir my so lekker is, is dat ek nou ’n rol vertolk het waarin mense soos Zanne Stapelberg en Michelle Botha gespeel het, mense na wie ek opgekyk het.”

Sy sê die ervaring voel steeds onwerklik.
“Ek moet myself knyp, want ek kan dit nie glo nie. My pa het kom kyk en dit is besonders om hierdie stukkie geskiedenis in verskillende fasette van my lewe te kan ervaar. Dit wys jou net, jy moet aanhou droom. Ek is nog nie klaar gedroom nie. Ek is en bly ’n dromer.”
Beukes skryf haar loopbaanpad aan geloof en volharding toe. “Die Here se hand is baie duidelik op my pad.”
Sy glo haar roeping strek verder as bloot vermaak. “Ek dink ’n gedeelte van my roeping is hopelik om mense te inspireer. Ek kan regtig daarvan getuig dat daar deur my hele lewe altyd hoop was. Hoop is vir my nie iets in die toekoms nie, dit is die fondasie waarop ons in die Here opbou.”
Sy wys ook daarop dat haar naam juis ook hoop beteken.
Volgens haar is dit die grootste beloning wanneer ’n storie of karakter ’n mens se hart raak.
“Ek glo dit is deel van my roeping om stories te vertel wat mense se harte raak. Hoe dit harte raak, kan ek nie sê nie, maar ek probeer die storie met integriteit vertel sodat dit by harte uitkom.”
LEES: VIDEO: Lion undergoes high-tech scan at Onderstepoort Veterinary Hospital
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel