EntertainmentLifestyle

Span bring sprankelende musiekteater na Pretoria-verhoog

Full House Productions bring 'Hot Mikado' na Pretoria met 'n energieke mengsel van jazz, humor, sang en indrukwekkende choreografie. Die gesinsvriendelike musiekblyspel spog met gevestigde én opkomende kunstenaars en beloof 'n produksie wat gehore vir twee ure na 'n wêreld van suiwer ontspanning en vermaak wegvoer.

Pretoria se teaterliefhebbers kan hulle gereed maak vir ’n skouspel van jazz, humor, sang en energieke dans wanneer Full House Productions Hot Mikado op die verhoog aanbied.

Die produksie is ’n moderne Suid-Afrikaanse verwerking van Gilbert en Sullivan se klassieke werk en beloof om gehore van alle ouderdomme te vermaak met verrassende storievertelling, energieke musiek en dinamiese choreografie.

Volgens choreograaf Pinto Ferreira is die blyspel veel meer as net nog ’n musiekblyspel. Hy beskryf dit as uitstekende vermaak wat mense vir ’n rukkie uit die werklikheid wegvoer.

“Vermaak is tot ’n groot mate ons ontspanning. Jy word weggevoer na ’n plek waar jy nie aan die wêreld, die pryse, oorloë, slaggate, belasting of taxi’s dink nie. Jy ontspan en ontsnap.”

Hy sê dansproduksies van hierdie omvang het skaars geword in Suid-Afrika.

“As ’n mens aan dansvermaak buite ballet en kontemporêre dans dink, is die bedryf baie moeilik. Die meeste dansers verdien hul brood en botter deur korporatiewe produksies wat nie vir die publiek oop is nie. Daar is nou en dan musiekblyspele, maar dit gebeur nie gereeld nie.”

Choreograaf Pinto Ferreira sê Hot Mikado bevat meer dans as die meeste musiekblyspele waaraan hy nog gewerk het. Hy glo die produksie bied gehore ‘n kans om vir ‘n paar uur van die alledaagse uitdagings te ontsnap deur energieke, professionele musiekteater te beleef. Foto: Verskaf

Volgens hom het groot casino’s oor die jare opgehou om groot dansproduksies aan te bied, wat beteken dat daar minder geleenthede vir dansers en minder produksies vir gehore is.

Hy sê die blyspel bevat waarskynlik meer danstonele as enige ander musiekblyspel waaraan hy nog gewerk het.

Ferreira sê die produksiehuis het doelbewus besluit om groot musiekblyspele na Pretoria te bring.

“Die meeste groot musiekblyspele speel in Johannesburg, Kaapstad en soms Durban, maar bitter min kom Pretoria toe. Ons wil daardie vermaak na Pretoria bring. Ná Hot Mikado volg Hairspray later vanjaar in die Centurionteater.”

Ferreira voeg by dat gehore ook veiliger voel om produksies in gevestigde teaters by te woon.

Akteur Jacques Gombault Foto: Verskaf

Hy beskryf gewilde akteur Jacques Gombault se betrokkenheid as ’n belangrike bate vir die produksie.

“’n Bekende naam lok gehore, maar Jacques is veel meer as dit. Hy is ’n sentrale figuur en sy ervaring hou die produksie bymekaar. Die meeste van die rolverdeling is jong kunstenaars en sy talent dien as ’n anker.”

Een van Ferreira se gunstelingtonele is Three Little Maids.

Hy sê die toneel is ontwikkel as ’n kreatiewe werkswinkel waar dansers en sangers saamgewerk het om die beste kombinasie van sang, dans en beweging te vind.

“Dit is vrek oulik en ek geniet dit verskriklik. Dit is waarskynlik die bekendste lied in die musiekblyspel, maar die manier waarop dit opgevoer word, laat dit regtig uitstaan.”

Volgens Ferreira is die produksie geskik vir die hele gesin omdat dit voortdurend verrassings bied.

“Elke toneel het sy eie identiteit, maar vorm deel van ’n groter storie. Die musiek, choreografie en storie is onvoorspelbaar. Daar is komiese oomblikke en nuwe verrassings wat die produksie vars hou. Ek dink kinders én ouer mense sal dit geniet.”

Sy aanslag met die choreografie put inspirasie uit verskillende dansstyle.

Ferreira verduidelik dat die musiek sterk deur jazz van die 1940’s beïnvloed is, maar dat hy elemente van Charleston, jive, ruk-en-rol, disco en moderne electro swing saamgevoeg het om ’n vars styl te skep.

“Ons gebruik selfs elemente uit ballet en jazz. Alles is daarop gemik om die gehoor te vermaak.”

Hy sê die grootste uitdaging was om akteurs, sangers, dansers en musikante tot een samehangende produksie saam te snoer.

Volgens hom word choreografie, sang en toneelspel aanvanklik apart ingestudeer voordat alles soos ’n legkaart bymekaar gevoeg word totdat dit perfek vloei.

Die rolverdeling van Hot Mikado bring jazz, humor, sang en energieke choreografie saam in ‘n moderne Suid-Afrikaanse verwerking van die klassieke Gilbert en Sullivan-musiekblyspel. Full House Productions hoop die produksie sal nuwe gehore na Pretoria se teaters lok en jong kunstenaars ‘n platform bied. Rainy van Zyl en Daniella Botes is deel van die produksie. Foto: Verskaf

Die produksie staan onder regie van Wilf Mahne, met Eraneé de Beer as musikale regisseur en Ferreira as choreograaf. Mahne sê sy doel is om gehore te vermaak én terselfdertyd ’n nuwe generasie teatergangers te inspireer.

“Ek glo met alles in my dat ek die regte persoon is om die regie van Hot Mikado te doen. Hierdie produksie het die potensiaal om ’n nuwe generasie teatergangers te kweek terwyl dit steeds moderne kwessies op ’n betekenisvolle manier weerspieël. My visie is eenvoudig: om die gehoor te vermaak.”

Die rolverdeling bestaan uit gevestigde en opkomende kunstenaars. Dit sluit in Danielle Botes as Yum-Yum en Reinier ‘Rainy’ van Zyl as Nanki-Poo. Ntokozo Manyoni vertolk Peep-Bo, en J.J. Roberts speel Pish-Tush. Gertjan Holtzhausen is Ko-Ko, terwyl Sibusiso Khanyile die rol van Pooh-Bah vertolk. Crystal Dolley verskyn as Pitti-Sing en Luigia Cassaleggio as Katisha. Jacques Gombault maak ook ’n spesiale kamee-verskyning as die Mikado.

Die produksie word ondersteun deur die ATKV. Kommunikasiebestuurder Mercia Eksteen glo dat projekte soos dié musiekblyspel kreatiewe geletterdheid, empatie en kultuurbewustheid onder jong gehore bevorder.

  • Die vertonings is van 5 tot 7 Augustus in die Atterbury-teater In Pretoria-oos.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button