Zwartkop smaak soete sukses in Plaatliga van Noordvaal Cup toernooi
Hoërskool Zwartkop is die onbetwiste kampioen van die Noordvaal Cup skolerugby toernooi se Plaat-afdeling, nadat hulle hul sterkste teenstander in dié liga die afgelope naweek oortuigend in die eindstryd geklop het om ’n droom-seisoen in triomf te laat eindig.
Uiteindelik! Die Hoërskool Zwartkop se eerste rugbyspan is die Noordvaal Cup skolerugby toernooi se Plaatafdeling kampioen.
Nadat dié span verlede jaar die ligafase oorheers het en onoorwonne geëindig het, is hulle in die halfeindstryd deur Hoërskool Middelburg verras.
Die oorblywende spelers uit verlede jaar se span, aangevul deur nuwe spanmaats, moes vanjaar saam met hul puik bestuurspan van vooraf begin en wéér het hulle daarin geslaag om die ligafase onoorwonne af te sluit. Hierdie keer het hulle egter nie net die eindstryd gehaal nie, maar die afgelope Saterdag is hulle as nuwe kampioen gekroon deur Hoërskool Nelspruit met 41-22 te wen.







Dis ’n ongekende prestasie wat nie maklik herhaal sal word nie – 18 oorwinnings uit 19 wedstryde in een liga oor twee seisoene. Om die vreugdevure by Zwartkop nóg bietjie hoër te laat brand en boonop hoop te gee vir die toekoms, is die skool se o.14-A span óók as kampioen gekroon, toe hulle Hoërskool Klerksdorp met 15-12 in ’n taai eindstryd geklop het.
Die Zwarries se Vikings het vroeg reeds hul stem dik gemaak toe buitesenter Stiaan Botha kon gaan druk, nadat sy sentermaat en kaptein, David van Jaarsveld, daarin geslaag het om besit om te keer toe die besoekers probeer het om uit hul eie kwartgebied aan te val.
Knaende aanvallende spel het daarna gesorg vir tien punte van Zwartkop se Cravenweek losskakel, Tilon Baron, wat met ’n strafdoel en later ook ’n verdoelde drie die telling na 17-0 verhoog het.
Die besoekers het eers na ’n kwartier se aksie daarin geslaag om tot verhaal te kom en na ’n paar fases kon agtsteman Wian Louw in die hoek oorduik om die Laevelders se rekening te open.






’n Kragdrie vanaf ’n lynstaan-dryfbeweging deur die Vikings se vaskostut, Ruben Harvey, gevolg deur Louw se tweede drie vir Nelspruit, het die rustydtelling op 22-10 in die tuisspan se guns te staan gebring.
Na die omdraaislag het Nelspruit verwoed probeer aanval, maar die Zwarries se verdediging het gehou en toe linkervleuel Waylin Papier gaan druk nadat die bal van omgekeerde besit vinning wyd gespeel is, het die druk op die besoekers ondraaglik geraak.
’n Drie deur Nelsrpuit se slot, Robroy McGregor, is byna dadelik uitgekanseleer toe sy direkte teenstander, Jetro le Roux, van die Vikings dieselfde gedoen het en met 15 minute se speeltyd oor moes die besoekers drie keer punte aanteken as hulle die skip wou omdraai.
Louw se derde drie het die Laevelders se hoop laat opvlam, maar dit sou die einde van hul bydrae op die telbord wees. Die Zwarries het wéér byna dadelik teruggeslaan en Dian du Plooy se drie het die oorwinning verseël en bevestig dat die span van Centurion geskiedenis gemaak het in 2026.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.