Só kan jy vir Mokopane as Dorp van die Jaar stem
‘n R1m-wenprys, ‘n gemeenskap wat saamstaan, en ‘n kans om te wys wat Mokopane spesiaal maak. Stem binnekort vir jou dorp.
MOKOPANE – Inwoners wat die Kyknetprogram Kwela volg, kan solank hul vere regskud om vir die dorp te stem as Kwela Dorp van die Jaar.
Die finale stemlyne maak vanaf 12-17 Julie oop.
Mokopane in die kollig
Op 7 Junie het die Kwelaspan aangekondig dat Mokopane ‘n finalis in die kompetisie is nadat die Kwelaspan Mokopane stil-stil besoek het.
Aanbieder Vanes-Mari du Toit het by ‘n paar belangrike punte in die dorp stilgehou om meer te wete te kom oor die dorp, en te sien hoe inwoners onder meer hande vat om die dorp skoon en netjies te hou.

‘n Gemeenskap wat saam werk
“Ons staan ‘n groot kans om die Dorp van die Jaar-kompetisie te wen, en dit sal ‘n reuse inspuiting vir ons dorp wees,” het Yolande Coetzee gesê.
Die wenprys sal nie net finansieel ‘n impak hê nie maar ook vir toerisme en beleggers.
“Die wenprys gaan nie na die munisipaliteit toe nie. Dit sal bestuur word deur ‘n onafhanklike, plaaslike ouditeur en rekenmeester en ‘n gemeenskapskomitee gaan saamgestel word (verteenwoordigers van besighede, skole, kerke, instansies en sport). Die komitee sal ‘n besigheidsplan saamstel vir Lottoland waarin die gebruik van die geld uiteengesit sal word, dit gaan ook aan die gemeenskap bekendgestel word sodra alles vasgestel is vir idees en insette,” het Coetzee afgesluit.
Groot planne vir die dorp se toekoms
Die wendorp se louere sluit nie net ‘n lugtydprys en ‘n lieflike makietie in nie, maar ook R1m danksy Lottoland om by te dra tot die dorp se opknappingswerk.
Mokopane, voorheen bekend as Potgietersrus, is ‘n bosvelddorp waar dinge gebeur en die gemeenskap saam staan om hulle omgewing op te knap.
Jou stem kan die verskil maak
Belangstellendes kan stemme SMS na 33157 teen R1.50 per stem. Slegs 30 inskrywings per nommer.




