Local News

Vragmotor bars deur Mokopane-skoolheining tydens sportdag

’n Vragmotor het deur die heining en in ’n stoorkamer van Hoërskool Piet Potgieter geploeg tydens ’n sportdag, en die gasvryheidsklaskamers skrams gemis.

MOKOPANE – Die jaarlikse matriekleerders teen die res-sportwedstryde by Hoërskool Piet Potgieter het verlede Vrydag ‘n onverwagse wending geneem toe ‘n vragmotor deur die skool se heining gebars en in ‘n stoorkamer tot stilstand gekom het.

Die bestuurder is in die voorval beseer, maar geen leerders, ouers of onderwysers is beseer nie.

Die jaarlikse sportdag, waartydens die matriekleerders in netbal, hokkie en rugby teen die res van die skool se leerders meeding, is tradisioneel ‘n hoogtepunt op die skool se kalender.

Die wedstryde bied aan die matrieks ‘n geleentheid om voor die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen aan sport deel te neem en saam met hul skoolmaats te ontspan.

Vrydag se wedstryde was in volle gang en leerders, ouers en onderwysers het by die rugbyveld byeengekom toe die voorval plaasgevind het.

Die vragmotor was onderweg vanaf Polokwane in die rigting van Mookgophong toe die bestuurder in Thabo Mbeki-rylaan, by die skool, klaarblyklik beheer oor die voertuig verloor het.

Die vragmotor het deur die skool se heining gebars en in ‘n stoorkamer tot stilstand gekom.

Die voertuig het die gasvryheidsklaskamers, wat agter die rugbyveld se pawiljoen geleë is, skrams gemis.

Mense wat op die sportveld bymekaar was, het die voorval gesien gebeur, en van die leerders wat kort voor die botsing in die betrokke gebied beweeg het, was ontsteld oor hoe naby hulle moontlik aan gevaar was.

“Om te dink as ek ‘n halfuur later daar beweeg het, was ek nou nie meer hier nie,” het een leerder gesê.

Hoewel die bestuurder beseer is, is die erns van sy beserings nog nie bevestig nie. Geen ander beserings is aangemeld nie.

Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Die polisie ondersoek die voorval en het nog nie ‘n amptelike verslag uitgereik nie.

Wat as ‘n opwindende sportdag vir die matriekleerders begin het, het dus in ‘n skrikwekkende voorval geëindig.

Die 2026-matriekleerders teen die res-wedstryde sal waarskynlik nie net vir die sportaksie nie, maar ook vir die dramatiese gebeure langs die veld onthou word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button