Legendariese karakters steel die kollig tydens Oosskool se junior revue
Van Liewe Heksie tot Pinocchio het bekende karakters die verhoog betree in Oosskool se junior revue, waar humor, musiek en dans ’n storie oor verantwoordelikheid vertel het.
POLOKWANE – Die bekende sprokiekarakters Heidi en Peter was die hoofkarakters in Oosskool se junior revue, ‘‘n Avontuur van Toeka tot Nou’.
Dié vertoning, wat verlede week in die skoolsaal plaasgevind het, het bekende karakters en liedjies uit die 1980’s op die verhoog gebring.
‘n Onverwagse krisis in Diereland
Haasdas van Haasdas se Nuuskas het die revue afgeskop met nuus uit Diereland oor ‘n voorval by ‘n maroelaboom, waar ses skape sonder toesig gelaat is.
Peter, vertolk deur AC Erasmus, moes na die skape omsien, maar het glo besluit om eerder aan die maroelas te smul. Toe hy begin sleg voel, het hy en Heidi, vertolk deur Klara Viljoen, na ‘n oplossing begin soek.
Op soek na ‘n seldsame kuur
Hulle het dr. Moomin (Lodewyk de Jager), ‘n bekende bosdokter, geraadpleeg. Hy het Peter met verantwoordelikheidspokkies gediagnoseer – ‘n toestand wat ontstaan wanneer iemand sy pligte vergeet en eerder maroelas gaan soek.
Dr. Moomin het Peter na Bennie Boekwurm (Malan du Preez) verwys, wat glo heelwat van verantwoordelikheid weet. Die voorgeskrewe kuur was ‘n spesiale eienaarskapstropie met groenmamba, suurmelk en maansand as bestanddele.
Van suurmelk tot maansand
Bennie het die twee na Mina Moo (Rileigh Tabelião), Diereland se kenner van suurmelk, gestuur.

“Dit is tyd om verantwoordelikheid te begin neem. Trek jou vellies aan en help my om die oudste koei te melk. Haar melk sal die vinnigste suur word,” het Mina verduidelik.
Die soektog het hulle daarna na Liewe Heksie (Lua Morton) geneem om maansand te bekom. Terwyl Heksie die maansand gaan haal het, moes Peter na Matewis omsien.

Oor gevaarlike oseane na Asblikfontein
Hulle volgende besoek was aan Die Swartkat (Espen Booysen), wat ‘n groot goue beker van verantwoordelikheid voorgeskryf het. Hy het hulle na Pinocchio (Theyman Jongbloed) verwys, wat hulle op sy beurt na Knersis (André de Lange) en Oscar (Miandi Niewenhuis) gestuur het. Die beker is glo op Asblikfontein bewaar.

Brakkenjan (JD Pienaar) het uiteindelik raad gegee: Heidi en Peter moes ‘n boot by Wiekie die Viking kry en oor gevaarlike oseane vaar om die beker op te spoor.
Die les is geleer
Op Asblikfontein het hulle uitgevind dat Knersis die beker bewaak, maar weens tandpyn baie nukkerig was.

Dawie die Kabouter, die dorp se apteker én polisieman, het gehelp deur ‘n stropie vir Knersis se tandpyn voor te skryf. Toe Knersis lomerig raak, kon Heidi die beker neem.
Die beker is met die eienaarskapstropie gevul, waarna Peter dit moes drink om sy les oor verantwoordelikheid te leer.
Heidi het die aand afgesluit met ‘n boodskap oor die waarde van keuses, groei en hoop vir die toekoms.
Die gr. R-3-leerders het tussen die tonele met danspassies vir verdere vermaak gesorg.
Kleur en karakters: Sien al die aksie op die verhoog





























































