Local News

Gabby Rosser veg moedig voort na ongeluk

Terwyl Gabby Rosser se vriende en familie buite die hospitaal bid, word sy weer in die teater in gestoot.

POLOKWANE – Die lewe van Gabby Rosser (21) en haar familie is Vrydagoggend onherroeplik verander toe sy in ‘n botsing in Munniklaan betrokke was en haar motor vlamgevat het.

Rosser, wat op pad werk toe was, kon uit die brandende wrak ontsnap, maar het 85% derdegraadse brandwonde opgedoen. Sy word tans in die intensiewesorgeenheid van Netcare Pholosa Hospitaal behandel.

Gabby Rosser se motor is besig om uit te brand.

Volgens haar stiefma, Jenny Osborn, is die brandwonde hoofsaaklik aan haar linkerarm en -been. Haar regterarm, voete en gesig is ook beseer.

“Haar klere het ook gebrand, en een van haar skoene het aan haar voet vasgesmelt. Haar gesig is gebrand, maar gelukkig nie so erg nie. Ons glo dit sal ten volle herstel.

“Daar is wel ‘n diep brandwond agter haar linkeroor, en ‘n stukkie van haar oorlel is weg,” het Osborn gesê.

Rosser was alleen in haar motor toe die botsing gebeur het. Volgens Osborn het iemand op die toneel haar pa, Craig, gebel om hom van die ongeluk in kennis te stel. Die familie is kort daarna deur ‘n onbekende nommer gekontak om te hoor na watter hospitaal sy geneem kon word.

Die familie was geskok, maar het probeer om positief te bly terwyl hulle op nuus oor haar toestand gewag het.

Volgens Osborn vorder Rosser goed onder die omstandighede. Sy was aanvanklik aan ‘n asemhalingsmasjien gekoppel, maar die asemhalingspyp is vroeg Saterdagoggend verwyder en sy kon daarna self asemhaal.

Sondag het sy vir die eerste keer gevra om te eet. Mediese personeel het later die pype verwyder sodat sy kon eet. “Sy het haar eerste operasie baie goed hanteer. Daar was ‘n groot kans dat sy dit nie sou deurmaak nie,” het Osborn gesê.

Rosser sal na verwagting elke paar dae teater toe moet gaan sodat haar wonde skoongemaak en verbande vervang kan word.

Verdere behandeling sal onder meer fisioterapie, arbeidsterapie, voedingsondersteuning, plastiese chirurgie en veloorplantings insluit.

Hoewel die mediese personeel tevrede is met haar vordering, is sy volgens Osborn nog nie buite gevaar nie. Die familie is ook nog nie ingelig oor hoe lank haar herstel kan duur nie.

“Die feit dat sy honger is en vra om te eet, is ‘n goeie teken. Sy kan beter voeding kry en sterk bly. Sy is baie dors, maar kan nie te veel water op een slag drink nie. Ons gee vir haar water met ‘n spuit,” het sy gesê.

Osborn sê Rosser se emosies wissel. Soms raak sy bekommerd en vra sy om verskoning, maar kort daarna maak sy weer grappies.

Sy kan sekere besonderhede van die insident onthou, maar niks van wat gebeur het nadat sy uit die motor gekom het nie.

Rosser werk as ontvangsdame en word deur haar stiefma beskryf as iemand wat ander mense eerste stel. “Sy probeer altyd positief bly en het ‘n sagte hart. Sy is lief vir haar mense en glimlag altyd. Sy het ‘n ongelooflike sin vir humor en geniet dit om te praat. Sy het ‘n passie vir jujitsu, en haar familie en vriende is vir haar bitter belangrik.”

Die familie moet intussen ook die finansiële sy van haar behandeling bestuur. Omdat Rosser nie lid is van ‘n mediese fonds nie, plaas die mediese uitgawes, vervoer, hospitaalbesoeke en ander noodsaaklike kostes groot druk op die gesin.

Gabby Rosser is positief na die soveelste operasie.

Die familie het ‘n skarefinansieringsrekening gestig om bydraes vir haar behandeling in te samel. Verskeie kleinbesighede in die stad het ook onderneem om ‘n persentasie van hul inkomste te skenk, en daag ander besighede uit om ook finansieel by te dra.

“Ons waardeer alle bydraes en donasies, asook gebede en positiewe gedagtes. Ons het steeds hulp nodig om die finansiële las ligter te maak. Enige finansiële bydrae, praktiese hulp of gebed beteken vir ons baie,” het Osborn gesê.

Sy het die gemeenskap bedank vir die ondersteuning wat die familie reeds ontvang het.

“Dankie vir almal se bystand, bydraes, gebede, liefde en omgee. Ons waardeer dit meer as wat ons in woorde kan sê. Gabby is ook ongelooflik dankbaar vir almal.”

Rosser se famile en vriende bid vir haar.

Familie, vriende en inwoners het Woensdagaand by Netcare Pholosho bymekaar gekom om vir Rosser te bid.
Terwyl haar geliefdes buite die hospitaal bymekaargekom het, is sy vir die soveelste keer by die teater ingestoot waar haar wonde skoongemaak is.
Osborn sê dit gaan goed met haar onder omstandighede.

Sy het Woensdag ‘n moeilike dag en aand gehad. Haar pa, Craig, was vanoggend by haar en sy word onder sedasie gehou.

“Daar word nou nog minder mense by haar toegelaat en dié van ons wat wel toegang het, moet ekstra beskermende klere dra as ons by haar wil ingaan,” het Osborn gesê.

Besoeke aan Rosser is tans tot naaste familie beperk. Besoek www.backabuddy.co.za om ‘n bydra te lewer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button