REDAKTEUR SE INK: Noodlot ruk jou terug na wat saakmaak
GENADE onbeskryflik groot. Dit is dié drie woorde wat die afgelope tyd dikwels deur my kop maal na ‘n motorongeluk op Dinsdag, 4 Augustus, waarin ek en my seun was.

GENADE onbeskryflik groot. Dit is dié drie woorde wat die afgelope tyd dikwels deur my kop maal na ‘n motorongeluk op Dinsdag, 4 Augustus, waarin ek en my seun was.
Ons was vroegoggend van Polokwane oppad na Hoërskool Piet Potgieter toe ‘n koedoe in ‘n oogwink op volspoed voor ons motor ingehardloop het. Die dier is dood, ons motor flenters en so ook ons harte.
Terugblikke na die oomblik laat die trane steeds vloei en ek besef dit is net ‘n genade dat ons ongedeerd daarvan afgekom het. Het die koedoe ‘n paar sekondes vinniger gehardloop het ek hom waarskynlik gemis en was hy ‘n aks stadiger was hy deur die windskerm bo-op ons.
My maag trek soggens nog op ‘n knop as ons verby daardie plek ry en ek sien my seun se hande bal saam, maar ons gesels daaroor en deur die trauma-belewing sien ons ook die Bosveld se mooi om ons raak. Daar is die tarentale wat hinkepinke langs die pad loop en in die motor se spieëljies is dit die volronde oranjerooi son wat sy kop agter ons uitsteek.
‘n Diep dankbaarheid dat ons leef kom lê dan in my binneste en ek besef dit is nie in ons hande om dit wat in die sekondes en minute wat voor ons lê, te bepaal nie. Ons neem so dikwels baie dinge as vanselfsprekend aan en wanneer die noodlot jou tref word jy vinnig teruggeruk na dit wat werklik saak maak soos om jou gesin en die mense na aan jou te koester en om die seëninge in jou lewe raak te sien.
Die ondervinding het ook weer vir my gewys daar is engele om ons, hartsvriende en omgeemense wat jy in jou oomblike van nood kan nader hark. Dankie aan my kollegas en almal in die gemeenskap vir ondersteuning en liefde.
Carpe Diem – gryp die dag!




