Dana, SA se beste treindrywer
Dana du Preez, 'n inwoner van die stad, is onlangs Transnet se treindrywer van die jaar aangewys
Dana du Preez, ‘n inwoner van die stad, is onlangs Transnet se treindrywer van die jaar aangewys tydens ‘n glansgeleent-heid by Kyalami se Theatre on the Track.
“Dis al die ekstra myle wat ek opsit,” spot hy.
“Ek is dol oor my werk en om die treine te bestuur. Oor Kersfees, as die treine nie gereeld geloop het nie weens die gebrek aan belangstelling en passasiers, het ek maar aangebied om die trein te bestuur as hulle ‘n drywer gesoek het,” vertel hy.
Hy sê hy het die toekenning gekry oor die baie na-ure wat hy werk, die “ekstra myle” wat hy ry, sowel as die ekstra werk, soos rangeer (shunt), wat hy na ure doen as hy versoek word.
“Ek kan net nie nee sê nie! My werk is vir my lekker. Dis ook ‘n groot verantwoordelikheid. Ek het al baie mense opgelei, maar dis nie regtig vir my lekker nie. Die werk gaan vir my oor drie dinge: respek vir ander, die trein en jouself. Verder gaan dit oor dissipline en oor trots. Dit maak ‘n ou wat hy is; dit is wat my gemaak het wat ek is.”
Du Preez sê hy is al 33 jaar ‘n treindrywer. “Nadat ek vyf jaar ‘n stoker was, is die stoomtreine uitgefaseer en toe word ek ‘n drywer; eers vir vyf jaar op die diesels in Naboomspruit (Mookgophong) voordat ek Richardsbaai toe is in 1979. In 1980 is ek Barberton toe en vandaar, vanaf 1985, woon ek in Polokwane. Van hier af dryf ons die treine na Tzaneen, Musina of Pretoria. Toe ek hierheen gekom het was ek die jongste van die drywers, nou is ek die oudste.”
Du Preez se pa was ‘n laaimeester op die spoorweë in Mookgophong, waar hy grootgeword het. Hy wou ook eers ‘n laaimeester word, maar daar was nie poste oop in dié rigting nie, toe word hy maar ‘n stoker omdat daar wel poste vir stokers beskikbaar was.
“Ek was nog nooit spyt dat ek die spoorweg gekies het as beroepsrigting nie,” sê hy.
Hy het die land al kruis en dwars gereis vir sy werk. Die skofte werk pla hom nie, hy is al lankal gewoond daaraan. As hy die naweek af is, gaan kuier hy by ‘n vriendin in Mookgophong.
Du Preez hou veral van musiek van die 50’s en “country”-musiek asook tuin- en houtwerk as hy die kans kry.
Hy tree oor vyf jaar af en dan sal hy daarvan hou om op ‘n plaas te woon. “Ek weet nie wat ek gaan maak as ek nie meer ‘n drywer is nie!” vertel hy.



