Local News

”n Ma in alle opsigte’: Huldeblyke vir Polokwane se Saartjie

Saartjie du Toit (77), voormalige huismoeder by Polokwane se Nasorgsentrum, is onlangs oorlede. Geliefdes onthou haar as 'n ma in elke sin van die woord.

POLOKWANE – Saartjie du Toit (77) het nooit biologiese kinders van haar eie gehad nie, maar elke inwoner en dagbesoeker by die destydse Polokwane Nasorgsentrum het ‘n spesiale plekkie in haar hart gehad, soos haar eie kinders.

Saartjie is op 7 Oktober, slegs twee dae voor haar 78ste verjaardag, aan natuurlike oorsake oorlede.

Hoewel sy nie meer nou by die sentrum betrokke was nie, laat haar afsterwe ‘n groot leemte in die lewens van dié wat haar geken en liefgehad het.

Saartjie was die huismoeder, maar ook soveel meer. Sy was ma, mentor en kok vir die inwoners en besoekers.
Haar broer, Baksteen Heunis, en sy vrou, Naomi, was die dryfveer destyds agter die idee om ‘n huis te bekom om hulle verstandelik gestremde dogter, Ilse en ander jongmense ‘n heenkome te bied na hul skool verlaat.
Dorpstraat 96 is gekoop met die samewerking van ander ouers, vriende en die gemeenskap.

‘Ons Huis’ het in January 1999 sy deure oopgemaak en hier kry die inwoners die geleentheid om verder te ontwikkel deur ‘n program wat volgehou word. Lewensvaardighede en selfstandigheid is van die faktore waaraan baie aandag gegee is.

Nadat die eerste huismoeder oorlede is in 2008, is Saartjie die pos aangebied en het sy van Pretoria af getrek na Polokwane met net kennis oor Ilse se gestremdheid.

Saartjie het die leisels gevat en na net meer as 16 jaar het haar gesondheid haar gedwing om weer die leisels neer te lê.

Lizzy Vogel, wat saam met Saartjie by die huis betrokke was, onthou Saartjie was baie netjies op haarself, die inwoners, die sentrum en ook, haar tuin.

“Sy was passievol in dit waarin sy geglo het. Een van haar eienskappe wat ons nooit sal vergeet nie, is hoe sy dinge net kon maak werk. Dit is ook dan wanneer hierdie planne wat sy gemaak het, uitgewerk het, wat sy breed geglimlag het,” sê Vogel.

Vogel onthou hoe die inwoners van die sentrum vir Saartjie die gevoel gegee het dat sy vir ander iets beteken, veral hulle wat hulp nodig gehad het.

“Sy was werklik ‘n ma, in elke opsig van die woord, vir die mense by die sentrum. Sy het vir hulle geleer oor netheid op hulself en hulle omgewing, beleefdheid, goeie maniere en opgeruimdheid. Ek dink sy sou opreg trots wees om te sien dat almal wat betrokke is by die sentrum – inwoners, dagbesoekers en werkers, netjies is en graag mooi wil aantrek en natuurlik, die lipstiffie.”

Haar jarelange vriendin, Marina Louw, beskryf haar as ‘n vurige rooikopvrou met ‘n hart van goud.

“Ek sal nooit haar vermoë om iets uit niks te maak en haar organisasievermoë vergeet nie. Haar rooi hare en opgewonde ‘Jipppiiieee’ sal vir ewig in my hart wees,” sê Marina.

Saartjie se tuin was een van haar grootste trotshede en het telkens ‘n glimlag op haar gesig gesit. Volgens Marina was sy tot lank ná haar tyd by die sentrum steeds trots op die tuin.

“Die netheid van die inwoners, die huis en die tuin was vir haar belangrik. Ek gaan beslis haar Sondagmiddagetes, waarmee sy altyd moeite gedoen het, en haar onvoorwaardelike liefde vir my mis,” sê Marina.

Sy hoop mense sal Saartjie ook onthou vir die liefdevolle versorging wat sy aan Baksteen en Naomi gegee het toe hulle bedlêend was, tot met hul afsterwe, asook vir die sorg wat sy aan Ilse gewy het.

Vogel sê hulle gaan die Sondae roomys baie mis. “Al is daar nie geld vir krag nie, daar is altyd geld vir roomys.”

Saartjie word oorleef deur haar ouer suster, Hanna Bester, wat in die Kaap woon en Ilse Heunis, haar broerskind wat in haar sorg was.

Die voormalige Polokwane Nasorgsentrum staan vandag bekend as die Polokwane Centre for Intellectually Impaired Adults.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button