Bosveld Rugbyfees bied uithaler rugby
Eindronde van Hoërskool Pietersburg se Kia Bosveld Rugbyfees is gekenmerk deur rugby uit die boonste rakke.

Vanjaar se eindronde van Hoërskool Pietersburg se Kia Bosveld Rugbyfees is gekenmerk deur rugby uit die boonste rakke.
Die teenwoordigheid van een van Suid-Afrika se voorste skeidsregters, Marius Jonker, en die onweerstaanbare geur van ‘n skaap- en beespotjie wat die lug gevul het, het die dag ekstra spesiaal gemaak.
Die eindstryde vir laerskole het vir opwinding soos min gesorg met beide wedstryde wat op enige tydstip na enige van die aanspraakmakers se kant toe kon gaan.
Hoërskool Pietersburg se eerste span was in ‘n titaniese eindstryd teen Hans Strijdom gewikkel met Jonker wat ‘n streng ogie oor die spel gehou het. Hans Strijdom het Pietersburg geklop en as oorwinnaars van die veld stap met die telbord op 30-24.
Hans Strijom se losskakel, Conrad Engelbrecht, is as Speler van die Wedstryd aangewys.
Die laerskole se eindstryd tussen Laerskole Pietersburg-Oos en Pietersburg-Noord het die afrigters van beide spanne laat naels kou. Die span van Pietersburg-Oos het nouliks gewen na ‘n baie intense en opwindende kaalvoet rugbywedstryd. Oosskool het met 7-5 gewen.
Die Speler van die Wedstryd in hierdie kragmeting was Pietersburg-Oos se agtsteman, Brandon Cronjé.
Die Hoërskole se speler van die toernooi was Arno Maree van Pietersburg se ander rugbyspan, die Barbarians. Maree het ook die toekenning vir die beste stelskopper van die toernooi ontvang.
Die Hoërskole se voorste driedrukker in die toernooi was Hans Strijdom se Willie Botha.
Taylor du Plessis van Laerskool Pietersburg is as die beste speler van die laerskole toer-nooi aangewys. Die beste laerskole stelskopper vir die toernooi was Gunter Kruger van Pietersburg-Oos en Brandon Cronjé was die beste laerskole drieëdrukker.
In die ander laerskole wedstryd tussen Laerskool Pietersburg en Krugerpark het Pietersburg gemaklik met 35-5 gewen en Jurgen von Houwald van Pietersburg was die Speler van die Wedstryd.
Daarna het Louis Trichardt en Ellisras se spanne op die veld gedraf en Louis Trichardt het nouliks met 42-38 geseëvier. Die wenspan se losskakel, AC Geldenhuys, was aangewys is as die Speler van die Wedstryd.
Volgende was Frikkie Meyer en Merensky aan die beurt. Frikkie Meyer het hul teenstanders gewys hoe om rugby te speel en met ‘n wentelling van 50-12 uit die stryd getree.
Chriszaan Strauss, Frikkie Meyer se losskakel, was die Speler van hierdie Wedstryd.
Pietersburg se Barbarians het in hulle wedstryd teen Nylstroom ook rugbylesse uitgedeel deur Nylstroom met 68-5 te looi. Die span se loskopstut, Emile Glas, was die Speler van dié Wedstryd.