PHS-leerder doen wetenskapservaring in Japan op
Niané Dreyer het Japan besoek as deel van die Sakura Wetenskap Hoërskoolprogram en sê die ervaring het haar geïnspireer om groot drome oor wetenskap en navorsing te koester.
POLOKWANE – Aan die einde van April vanjaar is Niané Dreyer na Hoërskool Pietersburg se skoolhoof se kantoor ontbied, waar ‘n man van die Onderwysdepartement saam met skoolhoof Adolf Ellis haar ingewag het.
“Ek het nie geweet wat aangaan nie en was op my senuwees, aangesien ek gedink het ek was in die moeilikheid. Mnr. Ellis het egter vir my ‘n brief voorgelees waarin ek uitgenooi is na die Sakura Wetenskap Hoërskoolprogram (SSHP) in Japan.”
Dié program het gedurende die laaste week van Mei plaasgevind, en Review het onlangs met Niané oor dié besondere ervaring gesels.
“Die hele ondervinding was net ‘n eens-in-’n-leeftyd-belewenis. Die geleentheid wat die Sakura Wetenskap Hoërskoolprogram geskep het om vir soveel kinders regoor die wêreld die kans te gee om die beeldskone Japan te beleef, is net asemrowend.”
Niané vertel dat sy stomgeslaan was deur die gasvryheid van die Japannese.
“Hulle harte loop oor van respek en liefde vir hul medemens. En natuurlik was dit net ongelooflik om te besef dat ek werklik oorsee was in ‘n land soos Japan. Ek het gedink die kos en ander goedere daar sou goedkoper wees omdat hulle geldeenheid swakker is as ons s’n. Dit het my egter geskok toe ek besef dat ek eintlik net soveel daai kant betaal as wat ek hier vir goed moet betaal.”
Sy het gedink sy sou van die Japannese kos hou, maar toe sy kimchi en hulle waterige sop proe, het sy vinnig besef dat Japannese kos nie vir haar was nie.
“Ek het baie van die melonpan gehou. Dit is ‘n tipe brood met ‘n suikerglanslaag bo-op.”
Niané vertel verder dat hulle ‘n lesing bygewoon het wat deur ‘n Nobelpryswenner aangebied is oor sy navorsing oor neutrino’s in die ruimte.
“Al het ek nie veel verstaan van wat hy verduidelik het nie, was dit steeds ‘n asemrowende ervaring. Tydens hierdie besoek het ek geleer dat niks in die lewe net vir jou gegee gaan word nie. Om iets te bereik, moet jy jou kop neersit en daarvoor werk, al vat dit weke, maande of selfs jare.”
Niané glo Limpopo en Suid-Afrika in geheel kan baie by Japan leer ten opsigte van wetenskap en tegnologie.
“Hulle ag navorsing en wetenskaplike werk as ‘n topklas werk, en almal daar het drome om ook eendag nuwe tegnologie of uitvindings te ontdek. Ek dink ons hier in Limpopo moet die strewe na nuwe navorsing en hoër hoogtes nastreef.”
Sy sê die Japannese se respek vir mekaar en hul land het ‘n groot indruk op haar gemaak. Hulle het altyd gegroet, en sy het nie een keer ‘n stuk papier in die strate gesien nie.
“Ons het die Tsukuba Universiteit besoek en daardie plek het my asem weggeslaan. Alles was grasgroen daar. Tsukuba is die mooiste universiteit, na my mening. Ons het ook eendag ‘n Japannese hoërskool besoek, en ons moes ons skoene met sakke toemaak voordat ons die skoolgebou kon binnegaan. Hulle is baie ernstig oor netheid en gesondheid.”
Sy vertel die ervaring het haar as mens verander deur haar meer bewus te maak van hoe sy ander hanteer, en om altyd met ‘n positiewe houding op te staan en te waardeer wat sy het.
“Ek wil graag soos die Japannese my medemens meer met respek behandel en altyd groet. Ek het sonder my ouers gereis, en dit het my geleer om ander mense vir hulp te vra asook aan te gryp.”
Niané was die enigste leerder in Limpopo wat hierdie geleentheid kon meemaak, en sy erken sy kan steeds nie glo dat dit gebeur het nie.
“Ek was geskok, maar natuurlik ook dankbaar. Ek het besef dat net die Here daardie deur vir my kon oopmaak.”
Op pad terug van die lughawe af kon Niané nie vir ‘n oomblik stilbly nie en het sy haar ervaring opgewonde met haar familie gedeel.
“Ek is steeds besluiteloos oor wat my pad na gr. 12 gaan behels, maar hierdie ervaring het my gewys wat moontlik is as mens hard werk vir wat jy wil bereik. Een les wat ek nie sal vergeet nie, is dat ons respek vir mekaar en die aarde waarop ons woon moet hê.”
Een van die interessantste dinge wat Niané ervaar het, was die spesifieke stede wat op bepaalde beroepsvelde gefokus is.
“Tsukuba is ‘n stad van wetenskap en tegnologie. Al die skole, universiteite en museums in daardie dorp is op wetenskap en tegnologie gerig.”




