
Die Kalanderfees is ‘n jaarlikse instelling by Oosskool waarna elke Osie die hele jaar lank uitsien.
Hierdie fees is vol pret en leerders vier die koms van die nuwe seisoen met groot entoesiasme.
Die Kalanderfees het weereens die leerders van Oosskool goed besig gehou vanaf 9 tot 13 September.
Die Osies het hulle program begin met ‘n opvoering oor waardes deur die Produksie 2000 groep en daardie aand was dit tyd vir Osies Got Talent.
Tydens dié talentkompetisie, het leerders gesing, gedans het en toneelgespeel.
Op Dinsdag, 10 September, was die klasse se deure toe en leerders het besig gebly met speletjies, ‘n mallemeule en kaskarre op die sportvelde. Die dag is afgesluit met ‘n ouerbraai waar onderwysers en ouers die kans gehad het om mekaar beter te leer ken en lekker saam te kuier.
Die musiekpret-aand wat op Woensdag, 11 September vir die ouers aangebied is, het ook groot joligheid ingehou. Ouers het spanne ingeskryf en deelnemers se musiekkennis is getoets. “Die aand was groot pret en ons het nogal nuwe dinge geleer,” het Anjah de Nysschen gesê.
Verlede Donderdag was dit tyd om te bou. Leerders het torings gebou met toiletpapier en ‘n skattejag geniet. Osies het hulle Kalanderfees afgesluit met ‘n Mnr. en Mej. Kalanderfees kompetisie verlede Donderdagoggend en ‘n dans vir die seniors.






