September is Mondhigiëne-maand en Review het met die gr. R leerders van Oosskool gaan gesels oor hul tande en die tandemuis.
Die tandemuis het die eerste keer in die 17de eeu sy verskyning gemaak en het baie gewild geword in die 20ste eeu. Kinders het deur die jare hul gewisselde melktande onder hul kussings of in hul skoene gesit en die volgende oggend was die tand weg, maar ‘n ander verrassing het in die tand se plek gewag.
Review wou by die jong-klomp hoor hoeveel die tandemuis betaal vir hul tande, wat hy daarmee maak en waar hy woon.
“Ek het al R20 vir my een tand gekry,” sê Christo Reynecke wat weet die tandemuis bly in, “tandeland waar alles van kinders se tande gemaak is”.
Kylie Campbell het al tot R80 gekry vir haar tande. “Die tandemuis bly in ‘n gaatjie in die muur en gebruik die tande om op te slaap,” het sy verduidelik.
“Ek het al twee tande getrek en toe kry ek ‘n R5 en bruingeldjies,” het Jeanté Korff gesê. Volgens haar bly die tandemuis op die plot in ‘n huisie wat hy uit die tande bou wat hy by die kinders kry.
“Ek het al baie geld gekry, R10, R5 en met my ander tand R18,” het Charné Erasmus gesê. Sy het gesê sy glo dat die tandemuis by een van haar maats bly.
Kenneth Smit het vertel die tandemuis is baie ryk. “Hy gee vir my baie geld. Ek het al R100 gekry vir my tande,” vertel hy opgewonde. Volgens hom bly die tandemuis onder sy bed. “Hy bou vir hom ‘n bed en ‘n huisie met al my tande,” verduidelik hy.
“Ek het nog net een tand getrek en toe kry ek baie geld, ek kan nie onthou hoeveel nie,” het Jacobus van Wyk gesê. “Ek en die tandemuis is maatjies en hy bly by my in my huis.”
“Ek kry baie geld vir my tande, want dit is nooit bruin nie, want ek borsel met grootmens-tandepasta,” het Jonelri Botha verduidelik. Sy het vertel daar is ‘n gaatjie in die muur langs haar bed en dit is waar die tandemuis bly. “Hy maak sy huisie mooi met almal se tande,” het sy gesê.
“Die tandemuis bly in my kas en slaap in my skoene,” het Dané Nortjé vertel. “Hy het al vir my R20 gegee vir my tande, want my tande is mooi skoon.”
“Ek het al twee tande getrek. Vir die een het ek R10 gekry en vir die ander een het ek R50 gekry,” het Mioné Litchfield vertel. Volgens haar bly die tandemuis in haar kas en gebruik haar broeke as ‘n kombers.












