NewsSchool sportSchoolsSport

Kroon is Hansies s’n

Hoërskool Hans Strydom het skitterende rugby gespeel in die finaal van die Kia Bosveld Rugbyfees-toernooi

Hoërskool Hans Strydom se o/17 rugbyspan het verlede Woensdag skitterende rugby gespeel in die finaal van die Kia Bosveld Rugbyfees-toernooi waar hul afgereken het met die span van Hoërskool Pietersburg (PHS).

Hansies het die wedstryd met 30-24 op PHS se veld beklink en dit was ook die eerste keer vandat die reeks aangebied word, dat die skool met die louere kon wegstap.

Die span het die wedstryd van die begin af in die losskrums en lynstane oorheers. Hoewel die pak voorspelers baie ligter was as dié van PHS, het hul uitstekende balvaardigheid die botoon gevier. Die spel was vanaf die afskop vinnig en die Hansies se balverspreiding in die agterlyn het seepglad verloop. Die halftydtelling was 16-12 in die guns van die Hansies.

Die Kia skolerugby-toernooi is net vir spelers o/17, wat dus matrikulante uitsluit. Altesame agt skole het vanjaar aan die toernooi deelgeneem wat op 4 September begin het en oor drie weke beslis is. Die ander skole wat deelgeneem het, was Hoërskool Merensky, PHS, Ellisras, Nylstroom, Louis Trichardt en Frikkie Meyer.

Die Hansies het in hul vorige twee wedstryde koning gekraai teen Ellisras Hoërskool en Nylstroom wat hul ‘n plek in die finaal besorg het. Met net 200 seuns in die skool wat teen skole met meer as ‘n duisend leerders moet meeding, het Hoërskool Hans Strydom met die oorwinning bewys dat hulle die onmoontlike kan reg kry.

Die span word afgerig deur George Klopper, Charl Weideman en Jan Lessing. Die span se sportwetenskaplike is Jan van Rooyen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button