Tegnologie is die rede vir Jan Tand se toewyding
Die vinnig veranderende en uitdagende vordering in tegnologie is die rede dat dr. Jan du Plessis of Jan Tand soos hy onder sy pasiënte bekendstaan, sommer nog lank as tandarts sal praktiseer.
POLOKWANE – Die vinnig veranderende en uitdagende vordering in tegnologie is die rede dat dr. Jan du Plessis of Jan Tand soos hy onder sy pasiënte bekendstaan, sommer nog lank as tandarts sal praktiseer.
“Ek wil tog nie eendag aftree nie!” sê hy. “Wat sal ek maak? My werk is vir my lekker en dis my passie.
“Daar gebeur so baie op tandheelkund-ige gebied, mens kan onmoontlik nie op alle terreine eers voorbly nie, maar moet spesialiseer in sekere nisgebiede. Dit hou my werk interessant en uitdagend.”
Behalwe die vele indiensopleidingskursusse, seminare en konferensies om op hoogte te bly van die nuutste tegnieke en vooruitgang in sy veld, werk Jan van 06:00 19:00 op weeksdae. Saterdae sal jy hom ook al vroeg by sy praktyk kry.
Hy bly positief en passievol oor sy werk. Sy personeel werk in skofte en val reeds van 05:30 in by die praktyk. Jan help ook na-ure in noodgevalle: “‘n Seer tand kan séér wees,” meen hy.
Daar is egter niks wat hom so vies maak soos wanneer iemand ‘n afspraak maak vir 06:00 en nie opdaag nie, met ‘n hele span wat gereed is en vroeg ingekom het om die persoon te help.
“Daar was seker ‘n tyd in my lewe toe ek ‘n polisieman of ‘n brandweerman wou word, maar vandat ek kan onthou wou ek tandarts word,” sê die man wat al 29 jaar lank sy brood en botter langs die stoel verdien.
Jan vertel dat die gemaklike doelgeboude buigbare stoel met sy groot lig en laaitjies vir benodigdhede, digitale x-straalmasjien en booreenheid R1 miljoen gekos het.
Die rekenaarstelsel met die gerekenariseerde CAD/CAM (computer-aided design and computer-aided manufacturing) tegniek was nog ‘n verdere R1,5 miljoen.
“Moderne tegnologie gaan gepaard met moderne tegnieke en moderne materiaal,” sê Jan.
“Die CAD/CAM vra baie opleiding en die opleiding is ook baie duur. Ons kry gewoonlik iemand van oorsee of gaan oorsee vir opleiding. Die tegnologie het ook voortdurend opgradering nodig.”
Hy vertel dat daar tans min plaaslike tandartse is wat van al die moderne tegnologie gebruik maak. “Dis maar ‘n keuse wat jy maak. Dis wat tandheelkunde vir my lekker maak. Ek sal ‘n ou kar ry, maar ek wil ‘fênsie’ toerusting hê.”
Wat is die beste ding wat mens kan doen om jou tande te versorg en gesond te hou?
“‘n Gesonde dieët, ‘n goeie mond-higiëneprogram en gereelde afsprake met jou tandarts en om dit op te volg,” is sy raad. Hy raai aan dat mens suiker en soetgoed ook waar moontlik vermy.
Jan is mal oor sy pasiënte. “Meeste pasiënte is maar bietjie bang op ‘n tandarts se stoel, so ‘n bietjie ‘opgetense’,” sê hy.
Sy gunsteling-pasiënte is mammas, want hulle moet dapper wees voor die kinders. “Die pa’s kan partymaal die ergste wees.”



