Wat doen jy as die krag af is?
Beurtkrag, kabels wat gesteel word en kragbesparings is verskynsels waarmee die stad se inwoners elke dag moet saamleef.
POLOKWANE – Beurtkrag, kabels wat gesteel word en kragbesparings is verskynsels waarmee die stad se inwoners elke dag moet saamleef.
Verlede week het kabeldiefstal die stad vir ‘n dag lank in die donker gelaat en baie besighede moes hulle deure toemaak.
Review het by inwoners gaan hoor wat hulle doen wanneer die krag af is.
“Gewoonlik as ons krag af is, is my skoonma se krag aan, so dan gaan kuier ons daar en eet daar. As ons albei se krag af is sit ons maar om kerse en wag vir die krag om aan te kom,” het Gerda Prinsloo vertel.
“Ons bly op ‘n plaas en is gelukkig genoeg om ‘n kragopwekker te hê, die kragonderbrekings pla ons nie,” het Soryna Fourie gesê.
“Ons leef in ‘n tyd wat almal gewoond is aan elektrisiteit en as die krag af is, weet ons nie wat om te doen of hoe om besig te bly nie. Ons sit net in die donker met kerse aan en gaan koop kos of maak broodjies,” was Lucia Motalane se mening.
Michael Swanepoel het gesê sy familie geniet dit soms as die krag af is. “Dit gee ons kans om kwaliteit tyd saam deur te bring en ons speel gewoonlik kaartspeletjies. Ons het ook gelukkig ‘n gasstoof, so om kos te maak is nie ‘n probleem nie.”
“Ons maak gewoonlik romantiese aandjies van die aande wat die krag af is,” het Vicky van Vollenstee gesê. “Ek, my man en ons kinders bring tyd saam deur en gesels baie meer. Ons sal soms braai as die krag af is, maar ons maak meestal op die gasstoof kos.”
“Mens kan nie regtig baie doen as die krag af is nie. Mens steek maar kerse aan en wag tot die krag aankom of speel met die kinders,” het Aneis Jonker gesê.








