Vierwielongeluk eis man se lewe
Hy het voluit geleef en groot gegaan in alles wat hy gedoen het, beskryf Johndré Adlem sy broer, Warren Adlem, wat Sondagmiddag in 'n kwadfietsongeluk dood is.
POLOKWANE – Hy het voluit geleef en groot gegaan in alles wat hy gedoen het, beskryf Johndré Adlem sy broer, Warren Adlem, wat Sondagmiddag in ‘n kwadfietsongeluk dood is.
Die 25-jarige was op pad huis toe, toe hy na bewering beheer oor sy kwadfiets verloor het en teen ‘n boom vasgery het. Die ongeluk het in Limpoporylaan in Peninapark gebeur. Hy is op die toneel dood.
“Ons woon naby mekaar en hy het die middag by ons gekuier. Toe die ongeluk gebeur was hy op pad huis toe,” sê Johndré.
“Ek kan nie glo hy is weg nie, ons gaan hom so baie mis.
“My broer was ‘n wonderlike en liefdevolle mens. Sy familie en vriende was vir hom kosbaar en hy het meeste van sy vrye tyd met sy geliefdes deurbring.”
Warren was die oudste van vier seuns en het in Desember met sy meisie van meer as agt jaar, Bianca getrou. Haar man se dood het Bianca so erg getraumatiseer dat sy nie kan praat nie, het ‘n familielid gesê.
AO Lesiba Ramoshaba, Polokwane polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie ‘n saak van strafbare manslag ondersoek.
“In hierdie stadium het ons nog nie inligting oor hoe die ongeluk gebeur het nie, want ons is nog besig met die ondersoek. Ons kan egter bevestig dat daar geen ander voertuie betrokke was nie.
“‘n Nadoodse ondersoek sal gehou word om te bepaal wat die oorsaak van sy dood is,” sê Ramoshaba.



