Local NewsNewsSchools

Osies onder háár wakende oog

Oosskool groet hierdie week vir Neels Snyman

Oosskool groet hierdie week vir Neels Snyman wat reeds op 21 Oktober by Laerskool Garsfontein as skoolhoof begin.

Lizette Olivier sal intussen aan die stuur van sake wees by Oosskool.

“Om ‘n nuwe hoof aan te stel behels ‘n hele prosedure,” verduidelik sy. Eers word ‘n vakaturelys uitgereik en kandidate wat kwalifiseer doen aansoek. Die aansoeke word gesif en onderhoude word met die goedgekeurde kandidate gevoer.

Die onderhoude word gevoer deur ‘n paneel wat die beheerliggaam van die skool insluit. ‘n Kortlys van kandidate wat as hoof aangestel kan word, word by die departement van onderwys ingedien. Die departement het die laaste sê, verduidelik sy.

Lizette wat al 16 jaar in die onderwys is, sal deur dieselfde proses moet gaan as die ander kandidate, sou sy aansoek doen vir die pos.

Sy het ‘n onderwysdiploma aan die destydse Onderwyskollege in Potchef-stroom verwerf en ‘n honneursgraad in onderwysbestuur, onderwysreg en onderwysstelsel aan die Noordwes Universiteit behaal.

Na afloop van haar studies het Lizette by Noordskool begin skoolhou. Oor die jare het sy by hoërskole en laerskole skoolgehou.

“Al my jare in die onderwys het so baie stories en oomblikke opgelewer, maar die ergste storie wat ek onthou is toe ek in my eerste jaar by Noordskool pampoentjies by een van die leerders aangesteek het. Ek was hond-siek,” vertel sy.

Lizette is al 33 jaar getroud met André, en die egpaar het twee seuns, Charles en Casper, wat albei in Pretoria woon en werk. “Ek het my seuns grootgemaak en geleer om aanvaarbaar te wees vir die samelewing; om te weet wat reg en verkeerd is volgens Christelike beginsels,” vertel sy.

“Onderwysers en selfs die hoof van ‘n skool is ‘n verlengstuk van die ouerhuis en deel in die leerders se opvoeding, daarom is dit vir my belangrik om die waardes waarmee ek my eie kinders grootgemaak het, aan die leerders oor te dra,” vertel Lizette.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button