CrimeEditor's choiceNews

Tref-en-trapbestuurder steeds soek

Tina Stephen, wie se man op 5 Oktober in 'n motorfietsongeluk gesterf het, beweer die polisie is traag om die saak op te volg.

POLOKWANE – Tina Stephen, wie se man op 5 Oktober in ‘n motorfietsongeluk gesterf het, beweer die polisie is traag om die saak op te volg.

Die bestuurder van ‘n beweerde blou Volkswagen Polo is steeds soek nadat hy vir Gary Stephen (49) raakgery het en van die toneel af weggejaag het.

Die ongeluk het op die hoek van McDonald- en Marshallstraat in Florapark plaasgevind.

Stephen het veelvoudige beserings opgedoen en is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Tina het verlede naweek beeldmateriaal by ‘n vulstasie in Marshallstraat gesien wat sy vermoed het ‘n verskil in die polisie se ondersoek sou maak. “Dit was ‘n blou voertuig wat links voor beskadig is en sonder ‘n nommer plaat is. Die beeldmateriaal wys dat ‘n polisieman met die bestuurder van die voertuig praat en dan weer wegry.

“Ek is Maandag na die polisiestasie waar ek met ‘n kolonel gepraat het en vir hom verduidelik het van die beeldmateriaal. Hy was baie negatief en het vir my gesê, al word die persoon gevang, gaan hy of sy net ‘n vyf jaar opgeskorte vonnis kry en moontlik ‘n boete betaal,” sê Tina.

Die bestuurder van die vulstasie bevestig dat daar wel beeldmateriaal is, maar het ook beklemtoon dat dit nie bevestiging is dat die voertuig in die beeldmateriaal dieselfde voertuig is wat die motorfietsryer omgery het nie. Die voertuig wat op die beeldmateriaal verskyn is nie ‘n Volkswagen Polo nie, maar ‘n blou Nissan.

“Ek dink die polisie moet die moontlikheid ondersoek dat die voertuig wat my man omgery het dalk nie ‘n Volkswagen Polo was nie en dalk ‘n motor van ‘n ander maak kan wees,” sê Tina.

AO Lesiba Ramoshaba, polisiewoordvoerder, sê indien Tina nie gelukkig is met die vordering van die ondersoek nie, moet sy ‘n formele klag indien by die bevelvoerder van die speurtak of by die stasiebevelvoerder. “Die hof besluit oor die uitkoms van ‘n saak. Die polisie is nie daar om te oordeel of the spekuleer nie. Die polisie ondersoek ‘n saak en neem verklarings om ‘n dossier saam te stel vir die hof,” verduidelik Ramoshaba.

Volgens die polisie se inligting, is die voertuig ter sprake ‘n nuwe Volkswagen Polo wat aan albei kante beskadig is.

Aan die regterkant is die gedeelte waar misligte geplaas is afgebreek in die slag van die ongeluk en aan die linkerkant is die paneel en buffer beskadig. Die Polokwane polisie ondersoek steeds ‘n saak van strafbare manslag.

Tina pleit dat enige persoon wat inligting het wat die polisie kan help met hul ondersoek na vore moet kom. “Ek is bereid om ‘n beloning te betaal aan die persoon wat inligting het wat gaan lei tot arrestasie van die persoon wat my man omgery en gelos het vir dood agtergelaat het,” sê Tina.

Enige persoon met inligting kan AO Len Lubbe by 084 602 2398 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button