TZANEEN – Puik speurwerk het gesorg dat drie verdagtes ‘n dag na ‘n rooftog by Hoërskool Merensky in hegtenis geneem is.
Volgens die polisie het die vermeende inbrekers, Koghimate Mashiteny (22), Isaac Dimo (35) en Thapelo Stanley Mokoena (30), wat die skool se kluis na bewering opgeblaas het, in die hof verskyn en is hulle borg geweier. Hulle word aangekla vir huisinbraak en diefstal, kwaadwillige beskadiging van eiendom en die oortreding van die plofstofwet.
Magnus Steyn, skoolhoof van Merensky, het aan Review vertel dat hy verlede Woensdagoggend om omstreeks 02:00 ‘n dowwe geluid gehoor het. “Ek was nie seker wat dit was nie; ek het gedink dat ‘n boom dalk op ‘n gebou geval het.”
Northern Sekuriteit het hom gebel en gesê die alarmstelsel het afgegaan in die skoolkantoor. Hulle was reeds op die toneel toe Steyn daar aangekom het. Hulle het ook die polisie gebel.
Volgens Steyn het die inbrekers met ‘n breekyster toegang tot die gebou gekry. Hy het gesê hy vermoed dat hulle plofstof in die kluis se slot gesit het om dit oop te blaas. Die swaar kluis deur is uit die kosyne geruk.
Die verdagtes het toegang tot ‘n kleiner kluis probeer kry wat binne-in die groot kluis was, maar hulle was onsuksesvol.
Daarna het hulle in verskeie kantore se laaie gekrap. In die administratiewe kantoor het hulle die OTM oopgebreek en om en by R9 000 gebuit. Drie skootrekenaars is ook geroof. “Die motief was beslis geld. Geen matriekvraestelle word in die kluis gestoor nie, en word elke oggend by die departement van onderwys afgehaal.”
Die verdagtes sal weer op 11 November in die hof verskyn in Tzaneen.





