MAKHADO – Verlede Woensdag is twee susters van Pretoria in Makhado se begraafplaas beroof deur twee mans met ‘n mes.
Die vroue, wie se name nog onbekend is, het gaan foto’s neem van hulle broer se graf, toe die twee mans hulle gekonfronteer het.
Volgens Kol Ronél Otto, provinsiale polisiewoordvooerder het die een man ‘n mes in sy hand gehad.
Hulle het die vroue na hul voertuig gedwing, waar een haar handsak, waarin al haar persoonlike dokumente asook ‘n pistool was, moes oorhandig.
Die twee mans het daarna in die bosse agter die begraafplaas ingehardloop en kort daarna het die Dorpswag en die polisie opgedaag en die mans agterna gesit.
Konst. Justice Nemafhohoni, van die honde-eenheid in Waterpoort, het sy hond saamgebring om te sien of hulle die spoor so kon volg en Floris Prinsloo het die soektog in sy gyrocopter uit die lug ondersteun.
“‘n Verdagte is later in dieselfde bos gevang en is tans in aanhouding vir ondervraging,” het Otto bevestig.
Sy het inwoners gewaarsku dat hulle versigtig moet wees rondom mense wat verdag lyk.
Sy het ook aanbeveel dat mense al die noodnommers moet ken en dat niemand ooit alleen moet loop nie, veral nie op verlate plekke nie.



