Dia groet na 27 jaar
Haar tasse en bokse is al meer as halfpad gepak. Haar boeke CDs, en DVDs het sy eerste gepak, daarna haar linne en mooigoed teen die mure.
POLOKWANE – Haar tasse en bokse is al meer as halfpad gepak. Haar boeke CDs, en DVDs het sy eerste gepak, daarna haar linne en mooigoed teen die mure.
Sy weet nog nie mooi en kan nie offisieël sê wat sy alles daar gaan doen nie, maar Dia van Staden is oppad na Pretoria. “Ek gaan in geloof. My seisoen hier is verby. Elke keer wat ek Pretoria besoek, ontdek ek nog iets om te doen, nog ‘n moontlikheid,” sê die stad se gunsteling geleentheidsbeplanner.
Dia is opgewonde en sien uit na nuwe uitdagings wat voorlê.
Na 27 jaar is die naam Dia van Staden goed bekend in Polokwane. So lank is sy al bedrywig in die stad met wat haar hande vind om te doen: Hulp vir al wat ‘n welsynorganisasie is, Mej. Pietersburg-kompetisies, Mighty Men-konferensies, seremoniemeester van verskeie funksies, radiowerk, en die BoekeJol en FilmRol-fees.
“Om 27-jaar se wortels uit te trek is nie jou maat nie,” sê Dia.
“Dis ‘n proses. Ek het geen illusies oor die emosionele aanpassings wat op my wag nie, maar ek is baie opgewonde. Voor ek die groot 50 slaan moet ek ‘n skuif maak. Ek is nog gesond en het baie energie, ek moet dit nóú doen, anders raak mens te vasgeval in jou gemaksone.”
Sy het klaar ‘n oulike tuinwoonstel gekry, goed geleë in ‘n rustige omgewing. “My grootste aanpassing sal wees om te weet waar ek is en waarheen om te gaan. Hier ken ek alles, weet waar is alles, maar ek is kláár met maklik. ‘Home is where the heart is’, en dis ek self wat die verskil gaan maak. Daar waar God my geplaas het, daar maak ek ‘n verskil.”
Dia se grootste en opwindendste uitdaging is om nuwe netwerke op te bou in Pretoria en Gauteng.
“Maar ek weet hoe om dit aan te pak. Ek storm in where angels fear to tread. Dis vir my ‘n uitdaging om myself aan myself te bewys. Geld motiveer my nie, maar mense en hulle geluk sal my altyd weer motiveer om na ‘n projek of ‘n gemeenskap terug te keer.”
Dia het grootgeword in Polokwane, toe nog Pietersburg, maar het ook op Transkei en in Giyani gewoon. Sy het gematrikuleer aan die Hoërskool Ben Vorster en gaan onderwys studeer in Potchefstroom.
Tydens haar finale jaar is haar pa oorlede en sy het teruggekom hierheen, na waar haar ma was. Sy het skoolgehou by Piet Hiugo en Noordskool, “en toe 24-uur kennis gegee en by Dion’s in die sportafdeling gaan werk”.
“In 1993 is ek Klerksdorp toe om by die Wes Transvaal Rekord te gaan werk as joernalis, maar het weer teruggekom en het weer ‘n tyd by Dion’s gewerk voordat ek ‘n restaurant gaan bestuur het – iets wat ek nooit weer sal doen nie!
“In 1996 het ek die eerste Mej. Pietersburg-kompetisie gereël en in 1997 is ek terug koerantwese toe. Ek het as skakelbeampte by Review begin werk, waar ek baie kreatiewe vryheid gehad het en baie gemeenskapsprojekte aangepak het. Ek het daarna Milestone Events begin, my eie besigheid.”
Hoogtepunte was daar te veel om te onthou, vertel Dia, maar een daarvan was toe sy in 2003 met ‘n Rotariër-besigheidsuitruilgroep na New York gereis het. Sy was toe nog in diens van die Noordelike Mediagroep.
Die baie jare se saamwerk met welsynorganisasies het ook vir vele hoogtepunte gesorg.”Ons het ongelooflike kundigheid in die stad in die welsyngemeenskap,” vertel sy.
Iets wat haar ook sal bybly is die Mighty Men-konferensies, wat sy as “baie spesiaal” beskryf. Dan was daar ook Polokwane goes Dancing en Kidz Inc, waardeur sy ‘n verskil gemaak het in kinders se lewe.
Een ding wat haar altyd sal bybly is die “ongelooflike mense” van die stad. ” Hulle is altyd dáár vir jou,” sê sy.



