Review se motorman waai totsiens ná 32-jaar diens
Na 44 jaar in die koerantbedryf, 32 daarvan in Polokwane, gaan André Buys aftree en uitendelik tot ruste kom.

POLOKWANE – Na 44 jaar in die koerantbedryf, 32 daarvan in Polokwane, gaan André Buys aftree en uitendelik tot ruste kom.
As motor- en sakeredakteur van Review vanaf 1999 het hy min bekendstelling nodig onder die stad se motorhandelaars en besigheidslui.
Baie motorhandelaars sal hom vir sy telefoonoproepe en sy kenmerkende : “Ek wil vir jou die weeklikse tweedehandse motor van die week aanbied,” onthou. Natuurlik het die handelaars dan gespring om dié gratis bekendstelling van een van hul voertuie in te palm.
Met twee broers in die koe-rantwese het die jong André, pas uit die weermag, ook in die koerantbedryf begin werk in 1976 as kopiehouer of proef-leser in Johannesburg, waar hy grootgeword het.
In1977 het hy en sy vrou, Nellie, besluit hulle het genoeg van die stad gehad en na Polokwane, toe Pietersburg, verhuis waar Perskor ‘n dagblad onder die Noord-Tansvaler se banier sou begin.
Die koerant het nie van die grond afgekom nie en André het as proefleser vir die Noord-Transvaler in die noorde gewerk.
Vir nog sowat vyf jaar het hy proefleeswerk gedoen en in 1981 na die redaksionele kant van die koerantwese geskuif waar hy vir twee jaar misdaadverslaggewer was voordat hy as nuusredakteur waargeneem het. Die Lebowa Mirror is toe van stapel gestuur, maar die koerant het gefaal.
André is terug na die Noord-Transvaler as verslaggewer en subredakteur vir ‘n paar jaar.
Die Noord-Transvaler is deur die Caxtongroep oorgeneem, en André is as motorredakteur van Review aangestel en het ook die sakeportefeulje behartig.
Twee stories wat hy as joernalis in die tagtigerjare gedoen het, staan vir André uit.
Een daarvan is ‘n storie van ‘n eksentrieke ou vrou wat in die asblikke gekrap het en daaruit geleef het.
“Sy het op ‘n dag net met haar ou Mercedes by mense in hulle erf ingetrek,” vertel André. Ek het haar begin agtervolg en wou ‘n foto neem, maar sy het my aanvanklik bly fnuik.”
Na ‘n langdurige ondersoek het André haar storie oopgekrap: Dié vrou was inderdaad ‘n ryk vrou, voorheen van Zimbabwe met nege bankrekenings, en iemand wat op haar dae saam met koningin Elizabeth tee gedrink het, volgens haar broer, wat André later opgespoor het.
Díe wou haar “nie eintlik geken het nie” en het geglo sy maak maar of sy deurmekaar is. Die broer het self nie baie ver van waar sy gewoon het nie, gebly. Sy is later tydens haar omswerwinge dood in ‘n tref-en-trap ongeluk toe sy oor N1-Noord geloop het.
‘n Ander storie wat André diep geraak het was ‘n geregtelike doodsondersoek wat aan die lig gebring het dat ‘n dokter ‘n oordosis narkose toegedien het aan ‘n vrou, wat toe weens breinskade gesterf het.
“Dit was ‘n aangrypende storie,” vertel André. ” Die dokter is later aan strafbare mansslag skuldig bevind.”
André het veral die laaste aantal jare vir groot genot gesorg met sy Blêksemville-stories wat tot so ‘n jaar of wat gelede gereeld in Review verskyn het. Hy hoop om, noudat hy aftree, sy boek, Kontreistories, te laat druk. Dit is ‘n boek vol kort stories, vol humor en patos en die ou vrou van Zimbabwe se storie verskyn ook daarin. Verder is die stories gegrond op mense en dinge wat André elke dag waarneem.
Natuurlik is daar snaakse stories ook uit sy leeftyd by die koerant. Hy vertel van die boer wat op ‘n Vrydagmiddag by die kantoor aangekom het, die redakteur gesoek het, en uiteindelik vir André onder sy ken “ge***sem het dat ek net pienk kolle gesien het” en so uit soos ‘n kers was. Dit nádat hy aan die man verduidelik het dat hy nie die redakteur was nie.
Mense wat hy sal onthou, wat indruk op hom gemaak het, is onder andere Jack Botes en Attie Vermaak, met wie hy “‘n pad saam geloop het”.
As taalpuris is André in 2005 as Afrikoon benoem deur die ATKV. Dit is vir hom ‘n uitstaande hoogtepunt van sy loopbaan. Kandidate is beoordeel op grond van hulle Afrikaanswees en bydrae tot Afrikaans.
Hy het ook erkenning gekry vir sy rubrieke in die Sanlamkompetisies vir sy sake-artikels en ook toekennings van die Polokwane Sakekamer vir goeie diens.
André en sy Nellie is al veertig jaar getroud. Hulle het een seun, en ‘n aangenome dogter wat nou in Nederland woon.
André gaan vir eers net rus en “net niks doen nie”. Hy is lief vir musiek en kyk graag sport op TV, veral rugby, krieket en Formule1.
Een ding is verseker, Noordelike Mediagroep gaan André elke dag mis. Hy is voorwaar ‘n lewende legende.



