Mookgophong is weer tuiste vir Bokkieweek se 35ste fees
Afrikanerjongmense kry die kans om by Hoërskool Hans Strijdom mee te ding en Afrikanerwaardes aan 'n volgende geslag oor te dra.
LIMPOPO – Vir baie Afrikanergesinne is dit al vir 35 jaar ‘n vaste plek op die kalender – en vanjaar is Mookgophong weer die plek waar daardie tradisie lewend gehou word.
Van 6 tot 10 Julie kom duisende spelers, beamptes en ondersteuners van regoor die land bymekaar vir Bokkieweek, Suid-Afrika se grootste nasionale Afrikanersportbyeenkoms.

‘n Tradisie wat jongmense saambind
Vir ds. Peter Stans, hoof uitvoerende beampte van Afrikaner Volkseie Sport (AVS), is die mylpaal veel meer as net ‘n getal.
“Vyf-en-dertig jaar gelede is die grondslag gelê vir ‘n sportweek wat vandag steeds jongmense bymekaarbring om op die hoogste vlak mee te ding, nuwe vriendskappe te bou en met trots hul unies te verteenwoordig,” het hy gesê.
Volgens Stans het die kern van Bokkieweek deur die jare onveranderd gebly.
“Dit bly steeds lekker om ‘n Boere-Afrikaner te wees. Bokkieweek is die plek waar ons poog om Afrikanerwaardes aan ‘n volgende geslag oor te dra.
“Ons is dankbaar dat soveel gesinne jaar na jaar deel daarvan bly.”
Die fees kom tot lewe
Die week het reeds op Maandag met ‘n feestelike openingseremonie op die A-rugbyveld van Hoërskool Hans Strijdom afgeskop.




Deelnemende unies het in ‘n optog paradeer voor die formele opening, waarna gewilde kunstenaar Ruhan du Toit die skare vermaak het.

Die eerste wedstryd van die week – tussen Verre Noord en Hoëveld se o/19-spanne – het gevolg, tot groot vermaak van die ondersteuners.

Nog hoogtepunte op pad
Een van die aand se gewildste gebeurtenisse, Mnr. & Mej. Bokkieweek, vind Dinsdagaand in die skoolsaal van Hoërskool Hans Strijdom plaas. Deure open om 18:45 vir ‘n 19:00-begin, en toegang is R10 per persoon (slegs kontant).
Die week sluit Vrydag om 14:00 af met die prysuitdeling op die A-rugbyveld, waar AVS ook sy nasionale spanne sal aankondig.
Verskeie spelers wat verlede jaar in die AVS o/19 Bokkiespanne gekies is, is terug vanjaar om weer te wys wat hulle kan doen.
Iets vir almal
Besoekers kan smul aan ‘n verskeidenheid kos- en verversingstalletjies en deur AVS-aandenkings en amptelike Bokkieweek-klerasie blaai. Daar is volop parkering rondom die skool, met veiligheidswagte wat voertuie deurentyd oppas, en ‘n mediese dokter is permanent op die terrein beskikbaar.
“Ons nooi almal uit om deel te wees van hierdie besondere mylpaal,” sê Stans.
“Of jy langs die veld is of die wedstryde aanlyn volg, ons sien uit daarna om nog ‘n onvergeetlike Bokkieweek saam met ons deelnemers en ondersteuners te beleef.”




