CrimeLocal NewsNews

Oues in donker verniel

"Ek het wakker geword met sy een hand om my keel en sy ander hand oor my neus en gesig, hy was besig om my dood te maak."

POLOKWANE – “Ek het wakker geword met sy een hand om my keel en sy ander hand oor my neus en gesig, hy was besig om my dood te maak.”

Koos Sauer (74) praat vanuit sy hospitaalbed by Mediclinic Limpopo waar hy en sy vrou, Ina (75), behandel word. Hulle word behandel vir verskeie beserings nadat hulle Maandag in die vroeë oggendure in hul huis in Devenishstraat aangeval is.

Koos is kleingebou met priemende blou oë. Sy gesig, nek en arm is swart en blou gekneus. Hierdie man is ‘n ware held. Hy het homself en sy vrou se lewens gered.

Hy sê hy het dadelik so hard as wat hy kon baklei om weg te kom van die man wat op hom gesit het. In die gestoei het hy van sy bed afgeval.

“Die man was dadelik weer op my en het my met iets hard teen die kop geslaan. Ek het besef hy was uit om my dood te maak.

“Dit het soos ‘n plofgeluid in my kop geklink en al wat ek kon dink was om te skop. Met die genade van bo het ek die man deur die kamervenster geskop,” vertel hy.

Koos vertel dat hy op daardie stadium nie seker was waar sy vrou, Ina, haarself bevind het nie omdat hulle in aparte slaapkamers slaap.

Hy het later uitgevind terwyl hy in sy kamer om sy lewe geveg het, was daar nog ‘n aanvaller besig om sy vrou in haar kamer te martel.

Ina is klein en baie fyngebou. Sy vra selfbewus om verskoning vir hoe sleg sy lyk terwyl sy haar hare agter haar oor indruk. “Ek kan nie alles onthou nie, behalwe dat die man my om my keel gegryp het elke keer as hy my geskop en geslaan het en dat ek wou smeek om my lewe,” vertel sy.

“My man het ons gered. As dit nie vir hom was nie, was ons vandag nie hier nie,” sê sy.

Die aanvallers het albei gevlug nadat Koos se aanvaller deur die venster geval het.

Volgens lede van die gemeenskapspolisieëringsforum (GPF) van die area (Sektor 1) wat vir hul eie veiligheid nie geïdentifiseer wil word nie, het een van die bure wat by die buurtwag betrokke is, rondom 02:00 die Sauers se hond histeries hoor blaf. Hy het besluit om ondersoek in te stel omdat dit ongewoon was. Terwyl hy oppad na die Sauers se huis toe was, het hy die glas hoor breek en Ina hoor skree.

Toe hy amper by die huis was het hy ‘n man in die pad sien afhardloop en het hy ‘n skoot afgevuur. Die Sauers was beide nog in hul kamers. Die polisies en nooddienste is vinnig ontbied.

Die Sauers woon reeds 38 jaar in hul huis in Devenishstraat en het nooit enige voorvalle beleef wat kon aandui dat iets soos dié kon gebeur nie, sê hul dogter, Ronel Baker. Sy was ook kort na die aanval aan haar ouers se sy.

Dit is nie duidelik wat die rede vir die aanval was nie. Koos se beursie het langs hom op sy bedkassie gelê. Niks is gesteel nie, en dit wil voorkom asof hul besittings nie deurgesoek is nie.

“My ouers is liefdevolle mense wat niemand ooit sal skade doen nie. Ons is net dankbaar dat hulle nog lewe, maar een ding is seker hulle gaan nie meer alleen woon nie. Dis in vandag se lewe te gevaarlik en mens dink altyd dit gebeur op plase en afgelee plekkies waar niemand kom nie.

“Hierdie is ‘n wekroep vir ons almal dat dinge soos dié met enige iemand, enige tyd kan gebeur,” sê sy.

“Ek wil net dankie sê aan die bure wat gehelp het en aan al die mense wat omgee. Dis nie iets wat in vandag se lewe gebeur dat vreemde mense betrokke raak waar mense in nood is nie. Baie, baie dankie,” sê sy.

Polokwane polisiewoordvoerder, ao. Lesiba Ramoshaba, het bevestig dat daar nog geen arrestasies gemaak is nie en dat ‘n saak van huisbraak en aanranding ondersoek word.

“Ons doen ‘n beroep op die lede van die gemeenskap om betrokke te raak by hul GPF of buurtwag om seker te maak dat daar mense is wat onmiddelik kan help in die geval van nood. Die buurtwagte is direk aan die polisie verbind en is die vinnigste skakel tussen jou en die polisie in ‘n noodgeval

“Daarom is dit belangrik dat die gemeenskap betrokke raak veral oor die feestyd waar meer en meer gevalle van geweld en misdaad aangemeld word en mense op vakansie gaan en hul eiendom agterlaat sonder toesig,” sê hy.

Ina Sauer (75) sê haar man, Koos, het hulle lewens gered toe hulle deur twee mans in hul huis in Devenishstraat vroeg Maandagoggend aangeval is.
Ina Sauer (75) sê haar man, Koos, het hulle lewens gered toe hulle deur twee mans in hul huis in Devenishstraat vroeg Maandagoggend aangeval is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button