Corrie Calitz se dood laat groot leemte
Vir Marlene Calitz is dit nog onwerklik om te glo haar seun, Cornelius, gaan nie enige oomblik by haar huis instap en groet soos net hy kon nie.
POLOKWANE – Vir Marlene Calitz is dit nog onwerklik om te glo haar seun, Cornelius, gaan nie enige oomblik by haar huis instap en groet soos net hy kon nie.
Cornelius Calitz (24) het in die vroeë oggendure van Maandag gesterf in ‘n motorongeluk op die Mogwadi(Dendron)-pad.
Die Calitz gesin is welbekend in Polokwane en van reg oor die stad stroom medelye in na Cornelius se dood.
Die gesin besit Freshwell, in die Bendor winkelsentrum, en het die winkel se deure Maandag gesluit. Die blomme en kaartjies wat inwoners voor die winkel se deure gepak het is ‘n getuienis van Cornelius se karakter en hoe gelief hy onder mense was. Mense het voor die winkel bymekaargekom en stories uitgeruil oor hoe hierdie merkwaardige jong man ‘n impak op hulle lewens gehad het. “Vir hom was niemand net ‘n klant wat net gou ietsie kom koop het nie, hy het moeite gedoen met elke mens wat op sy pad gekom het,” sê ‘n klant van die winkel wat anoniem wil bly.
Cornelius was ‘n jagter en visserman by uitstek en word veral onthou vir sy grappies, staaltjies en aansteeklike lag.
“Corrie was ‘n nederige kind, het altyd iets oorgehad vir die volgende mens en almal wat hom geken het, het hom liefgehad. Hy was ‘n voorbeeld vir almal en die leemte sal nooit weer gevul kan word nie,” sê sy ouers, Callie en Marlene. Istel van Rooyen, jarelange vriendin van Cornelius, vertel hoe hy haar altyd laat lag het. “Hy het altyd meer oor ander mense bekommer as oor homself. As ek vir hom iets kon sê, sou dit wees hoe verskriklik lief ek hom het. Daar is so baie dinge wat ons nog saam moes doen,” sê sy. “Ek het nog nooit iemand geken wat op 24-jarige ouderdom al soveel gelewe het nie. Ons verstaan nie hoekom dit moes gebeur nie. Niks sal ooit sy plekkie in ons lewens weer volmaak nie.”
Cornelius laat sy ma en pa, suster Joria en broer, Christipher agter. “Hy was sy broer en suster se steunpilaar en ouboet. Hulle gaan hom baie mis,” sê Marlene.
Hy word môre (Vrydag) vanuit die NG Kerk-Bendorpark begrawe. Die diens begin om 11:00. Freshwell sal ook Vrydag gesluit wees.
Die familie bedank graag almal vir hulle ondersteuning en bystand. Daar is nie woorde om te verduidelik hoeveel hierdie ondersteuning vir hulle beteken nie.



