Local NewsNews

‘Vertrou op die Here vir ‘n goeie huwelik’

Na 30 jaar se getroude lewe is ons liefde vir mekaar sterker as wat dit was die dag toe ons getrou het, sê pastoor Thomas Maruping en sy vrou, Magrieta.

POLOKWANE – Na 30 jaar se getroude lewe is ons liefde vir mekaar sterker as wat dit was die dag toe ons getrou het, sê pastoor Thomas Maruping en sy vrou, Magrieta.

In die lig van Wêreld Huweliksdag wat Sondag gevier word, het Review met hierdie egpaar gesels wat na 30 jaar nogsteeds troetelname vir mekaar het.

Thomas en Magrieta is oorspronklik van Vryburg maar bly al jare lank in Westenburg. Hulle liefdesname vir mekaar is “Mamma” en “Pappa”.

Thomas sê hy het gebid en vir die Here gevra om vir hom ‘n goeie, nederige vrou te gee met wie hy sy lewe kon bou.

“Die Here het my gebede verhoor en vandag is ek die gelukkigste man in die wêreld.”

Thomas sê voordat hy en sy vrou getrou het, het hy elke dag verby Magrieta se huis geloop met die hoop hy haar sou sien. Min het hy geweet dat sy ook vir hom geloer het deur haar kamervenster.

“Ek het altyd deur die venster geloer hoe hy verby ons huis stap. Hy het so ‘n lekker stappie in hom, wat hy vandag nog het. Dis waar die liefde begin het,” sê Magrieta.

Volgens Thomas het elke huwelik sy eie uitdagings en die enigste manier om dit te oorkom is met die hulp van die Here en om met mekaar te kommunikeer.

“Wees lief vir mekaar en respekteer mekaar. My vrou was baie siek gewees, maar my liefde vir haar het nog nooit verander nie. Daar kom baie uitdagings op die huwelikspad, maar as jy vertrou op die Here kan julle saam enigiets oorwin,” se Thomas.

Magrieta sê die grootste vreugde in ‘n huwelik is die seëning van kinders.

“Die Here het ons geseën met twee pragtige kinders en twee kleinkinders. Dit is ook lekker in die huwelik wanneer julle opreg en eerlik is met mekaar en mekaar bemin. Vertrou mekaar en leer om nederig te wees en om jammer te sê wanneer jy verkeerd is,” sê Magrieta.

Thomas voeg by dat die huwelik ook lekker is wanneer daar goeie kommunikasie is tussen die getroude paartjie, liefde gegee en ontvang word, en vriendskap bestaan tussen man en vrou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button