Editor's choiceLocal NewsNews

Meisie (12) se been afgesit: spinnekopbyt dalk die oorsaak

Die twaalfjarige Chantelle van Staden, 'n gr. 7-leerder van Oosskool het haar linkerbeen onder die knie verloor na 'n insekbyt.

POLOKWANE – Die twaalfjarige Chantelle van Staden, ‘n gr. 7-leerder van Oosskool het haar linkerbeen onder die knie verloor na ‘n insekbyt.

“Ons kan nie bevestig of dit ‘n bosluis of ‘n spinnekop was nie, maar die bloedtoetse toon nie bosluiskoors nie en die bytmerkies lyk soos dié van ‘n spinnekopbyt, so ons is amper doodseker dit was ‘n spinnekop,” sê Chantelle se voog onderwyseres, Ingrid van der Merwe.

Sowat drie weke gelede het Chantelle oor lyfseer begin kla. Haar ouers, Braam en Elaine, het haar dokter toe geneem, waar sy medikasie teen bosluiskoors en spinnekopbyte ontvang het.

“Sy het die medisyne gedrink, maar haar lyf het seer gebly, en haar voet het begin blou raak. Ons het haar toe Mediclinic Limpopo toe geneem,” het haar pa vertel.

Sy was byna ‘n week in die hospitaal. Die Saterdagaand na sy ontslaan is het sy weer baie pyn gehad.

“Ons het haar weereens dokter toe geneem.

Haar been was blou, koud en haar voetjie het geen pols gehad nie; toe jaag ons met haar deur Pretoria toe.

By die hospitaal het hulle eers vir haar bloedverdunners gegee om te kyk of hulle die bloedsomloop na haar voet kon herstel, maar dit het nie gewerk nie. Hulle moes toe op haar opereer om die are te probeer oopmaak, maar dit was ook onsuksesvol,” vertel Braam.

Die weefsels in haar voet was reeds dood en kon nie gered word nie. Sy het ook ‘n infeksie gehad. “Die infeksie is darem nou baie beter.”

Chantelle is steeds ‘n pasiënt in die intensiewesorgeenheid by die Unitas Hospitaal in Pretoria.

“Dit gaan al beter met Chantelle. Sy het maar haar op en af dae. Haar been was baie seer, maar nou dat die been nie meer daar is nie, is die ergste pyn weg,” sê Braam.

Hy sê daar is steeds onsekerheid of sy haar regter voet gaan behou. “Al wat ons kan doen is wag om te hoor wat gaan gebeur,” sê Braam met hartseer en kommer in sy stem. “Ons het mooi vir haar verduidelik dat sy ook sal kan loop met die prostese; sy gaan net haar beentjie kan opsit en afhaal.”

Hy noem dat Chantelle voor die ouderdom van drie jaar gediagnoseer met tipe een diabetes en auto immuunhepatitis wat haar immuunstelsel verswak. “Al die dinge saam maak die situasie net erger.”

Hulle is nog nie seker wanneer Chantelle huistoe sal kan kom nie.

“Chantelle, my meisiekind, bly sterk en hou aan glo, mamma is hier om jou te ondersteun, maar daar is sommige goedjies wat jy self sal moet aandurf, hou jou kop hoog en lewe elke dag voluit, saam sal ons wen,” motiveer Elaine haar dogter.

“Ons by die skool bid vir jou, ons mis jou en ons is baie lief vir jou, daar is ‘n gaping in die klas nou dat jy nie hier is nie,” sê Ingrid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button