Swanger vroue vind baat by veilige oefeninge
Elizabeth Manning Fisioterapeute bied pilates-klasse aan vir swanger vroue.
Van 10 tot 16 Februarie het die departement van gesondheid gefokus op swangerskap in hul jaarlikse swangerskapbewustheidsweek.
Oefening is ‘n belangrike deel van enige gesonde lewensstyl en Review het met ‘n paar kenners gaan gesels oor die belangrikheid van oefening tydens swangerskap.
Dr. Flip van As, ‘n algemene praktisyn van Polokwane, het verduidelik dat ‘n swanger vrou matige oefeninge kan doen van ses weke in die swangerskap af.
“Dokters beveel aan dat swanger vroue ligte oefeninge doen soos om te swem of te stap.
“Dit is egter beter om geen oefeninge in die eerste ses weke van die swangerskap te doen nie, want dit kan ‘n miskraam veroorsaak,” het hy gesê.
“Oefening is belangrik omdat swanger vroue maklik bloedklonte kan ontwikkel en gereëlde oefening moedig die bloedsomloop aan en verhoed bloedklonte.
“Pilates is ook goeie oefening vir ‘n swanger vrou, want dit is nie stremmend nie. Dit help die liggaam om by die swangerskap aan te pas.”
Marilise van den Berg, ‘n biokinetikus by Body Life gimnasium, het gesê dat oefeninge belangrik is vir ‘n swanger vrou, maar dat dit gemonitor moet word.
“Ons gee riglyne aan swanger vroue, soos dat hulle nie enige oefeninge moet doen wat te stremmend is nie.
“Ons monitor ook hulle hart-kloppe sodat dit nie vinniger as 145 slae per minuut is nie. Wanneer die ma se hart te vinnig klop, neem dit te veel bloed van die baba af weg,” het sy verduidelik.
Elizabeth Manning Fisioterapeute bied pilates-klasse aan vir swanger vroue. Volgens Matthew Manning, een van die fisioterapeute wat pilates-klasse aanbied, is daar sekere redes waarom party swanger vroue nie oefening moet doen nie.
“Wanneer ‘n vrou aan enige hartsiektes of longsiektes soos emfiseem ly, moet sy wegbly van oefeninge af,” het hy gesê.
Manning het ook gewaarsku dat swanger vroue dadelik alle oefening moet staak en ‘n dokter moet spreek indien enige bloeding in die tweede en derde trimesters voorkom.
“Enige asemtekorte, lighoofdigheid, borspyne, vloeistoflekkasies en ‘n vermindering in die fetus se beweging is ook waarskuwings-tekens en die vrou moet dadelik ophou oefen en mediese hulp kry.”
Hy het verduidelik dat swanger vroue veral pilates moet doen omdat dit help om die postuur te verbeter. “‘n Vou se postuur verswak soms met swangerskap en pilates help hulle om hierdie verslapping te korrigeer.”
Manning het aanbeveel dat vroue oefeninge soos fietsry, waar balans belangrik is, moet vermy omdat ‘n swanger vrou maklik haar balans kan verloor en kan val.
“Sy en die baba kan seerkry indien sy val.”



