POLOKWANE – Ontstoke inwoners van Wes-tenburg het uiteindelik genoeg gehad.
Dié woede volg na ‘n reeks huisbrake in die gemeenskap onlangs.
Inwoners het vertel dat hulle onveilig voel en dat dit moet end kry.
“Jou huis is die een plek waar jy veronderstel is om veilig te voel, maar deesdae is ‘n mens te bang om te gaan slaap as gevolg van die skurke wat so inbreek,” het een van die inwoners gesê.
‘n Ma van drie het vertel dat sy en haar kinders alleen in Buysstraat woon omdat haar man buite die stad werk en slegs elke tweede naweek huis toe kom.
“Vrydagoggend omstreeks 03:00 het iemand probeer inbreek by hul huis.
“Ek slaap baie lig en ek hoor die kleinste geluidjie. Ek het ‘n gekap gehoor, maar het eers gedink dit is die badkamervenster wat nie reg toegemaak is nie.
“Toe ek opstaan om te gaan kyk, het ek besef dit was nie die venster nie, maar iemand wat probeer inkom het.
“Ek het begin skree en die persoon of persone het weggehardloop,” het die vrou vertel.
Sy kon nie bevestig of dit een of meer persone was nie. “Ek was te bang om na buite te gaan.
“Ek het my seuns wakkergemaak en my oudste het gaan kyk en gesien een van die vensters is losgekap.
“Dit is duidelik dat wie ook al besig is met die inbrake, mense se roetines dophou en ook nie bang is nie, want die venster wat hulle oopgekap het, is voor in die straat en daar is ‘n helder lig wat daarop skyn.”
Die vrou het gesê in net minder as ‘n maand was daar sover sy weet ongeveer tien voorvalle in Buysstraat alleen.
“Hulle het by my buurvrou ingebreek en haar plasmaskerm gesteel. My bure oorkant die pad se deur is oopgebreek en hulle plasmaskerm is ook gesteel.
“‘n Paar huise van my bly ‘n 80-jarige ouma. Hulle het by haar ook probeer inbreek, maar gelukkig het die mense wakkergeword voordat hulle kon ingaan.
Dit is nie net Buysstraat wat deurloop nie, het ‘n ander inwoner verduidelik.
“Ek bly in Ben Harrisstraat en hulle het drie keer by my plek ingebreek.
“In November was hulle binne in ons slaapkamer terwyl ons geslaap het. Ons het niks gehoor nie. Hulle het twee selfone en geld gevat.
“Vroeg in Januarie het hulle my kragopwekker gesteel en twee weke gelede het hulle probeer inbreek in my motor, maar die alarm het afgegaan en hulle afgeskrik,” het hy gesê.
Inwoners in Tomesstraat word ook na bewering geteiken.
“In Desember het hulle my dogter se foon onder haar kopkussing gesteel. Hulle was nie binne die huis nie. Ons vermoed hulle het die venster oopgemaak en met ‘n stok of iets die foon nadergetrek.
“‘n Paar weke daarna het hulle ons voordeur oopgebreek en goed gesteel. So twee weke gelede het ek ‘n inbreker op heterdaad betrap. So net voor 20:00 het ‘n skelm sy hand deur die venster gesteek, maar voor ek hom kon gryp het hy weggehardloop,” het ‘n inwoner van Tomesstraat vertel.
Kapt. Mohlaka Mashiane, die Westenburg polisie se woordvoerder, het bevestig dat inbrake ‘n probleem is in die area.
“Om die probleem te bekamp moet die polisie en gemeenskap saamwerk.
“Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om na vore te kom sodat ‘n buurtwag gevorm kan word en areas gepatroleer kan word,” het Mashiane gesê.



