Willie Jacobs sterf op 72
Willie Jacobs (72), 'n jarelange inwoner van die stad, het Dinsdag skielik gesterf.
Willie Jacobs (72), ‘n jarelange inwoner van die stad, het Dinsdag skielik gesterf.
Jacobs het op 20 Januarie sy 72ste verjaardag gevier.
Hy het vermoedelik aan ‘n hartaanval gesterf en is gevind in sy woonstel in die Magrietjie-eenhede by die Vergeet-My-Nie Ouetehuis in Polokwane.
Verskeie inwoners van die ouetehuis was geskok oor sy skielike heengaan, omdat hy daardie oggend nog water by die ouetehuis se boorgat gaan haal het.
Jacobs was in die laat 1980’s en vroeë 1990’s die bestuurder van die destydse Volkskas-bank in die stad. Hy het ook hierdie posisie vroeër in sy lewe in Warden, in die Vrystaat, Burgersdorp, in die Ooskaap, en Lydenburg, in Mpumalanga, beklee.
Hy het in 1995 ‘n massiewe beroerte oorleef, maar is daarna medies ongeskik verklaar om te werk en het afgetree.
Louise Louw, sy suster en ma van bekende joernalis Marietie Louw-Carstens, het gesê sy sal haar broer se goeie hart en vrygewigheid altyd onthou.
“Hy sou sy laaste sent vir iemand anders gee, al het hy niks gehad nie,” het sy gesê.
Jacobs se eksvrou, Hettie Minnie, is ‘n paar jaar gelede na ‘n jarelange stryd teen kanker oorlede.
Hy word oorleef deur sy twee seuns, Willem en Francois, en sy drie kleinkinders.
‘n Finale besigtiging van sy liggaam word Vrydag om 09:00 by Doves in die stad gehou. Jacobs word om 11:00 in die nuwe begraafplaas langs die Lebowakgomopad begrawe.



