‘n Tawwe tyd lê voor vir Elmarie
'n Mens sou nooit raai, te oordeel aan Elmarie Kruger se sprankelende persoonlikheid, watter tawwe tyd vir haar voorlê nie.
POLOKWANE – ‘n Mens sou nooit raai, te oordeel aan Elmarie Kruger se sprankelende persoonlikheid, watter tawwe tyd vir haar voorlê nie.
Elmarie moet Donderdag vir ‘n kolonskopie en biopsie gaan, en op 3 Maart vir ‘n operasie om ‘n deel van haar dikderm te verwyder.
Haar beproewing het reeds in 2006 toe haar man, Deon, siek geword het, begin.
“My man se gesondheid het agteruit gegaan; hy het seertjies op sy enkels ontwikkel en dit het later in hospitalisasie en drie operasies geeïndig. In 2009 het hy sy werk verloor en daarmee saam het ons ons mediese fonds verloor,” vertel sy.
“In 2012 is hy weer opgeneem nadat hy in ‘n semi-koma verval het, en is ‘n bloeiende maagseer by hom ontdek. In dié tyd moes ek die pot aan die gang hou deur te werk, en ook na hom te kyk. Hy was vir ses weke in Pretoria in die hospitaal en ek het gereeld deurgery soontoe.”
Elmarie is ‘n haarkapper en het ‘n diploma in haarstilering. In 2012 het sy ook as modestilis gekwalifiseer.
“Ek het te veel gewerk en my liggaam oor sy limiet gedruk,” vertel sy.
“In Maart verlede jaar het ek reeds begin sleg voel, maar dis eers aan die begin van Februarie hierdie jaar wat ek dokter toe is. Dr. Vernica Stopforth het ‘n sonar gedoen en my dadelik na dr. Henk Stander toe gestuur.
“Hy het X-strale geneem en nadat hy daarna gekyk het, het hy my na dr. Adrian Wreyford gestuur.”
Wreyford het besluit om ‘n biopsie en kolonskopie te doen, vertel sy.
Aangesien hulle geen mediese fonds het nie, het vriende en familie besluit om ‘n fondsinsamelingsdans en ‘n veiling hou.
“Bolivia Lodge skenk aan ons die gebruik van die saal en al die kos en drank word geskenk.
Daar was reeds ‘n skenking van ongeveer R13 000 wat vir die biopsie en kolonskopie gebruik gaan word. Ons kort nog ongeveer R100 000 vir die operasie op 3 Maart,” vertel sy.
Volgens Nici Vogel, een van die organiseerders van die dans, sal daar ook ‘n donasieboks beskikbaar wees, vir mense wat wil bydra maar nie aan die veiling wil deelneem nie.
Elmarie sê sy het haar werk heelwat afgeskaal, maar sy sien steeds kliënte op Donderdae, Vrydae en Saterdae. “Haar man werk ook nou weer by Woodworx, danksy Herculus Myburg.”
Elmarie het in Mokopane grootgeword en ook vir Deon daar ontmoet. Hulle is in 1972 getroud en het drie kinders en vier kleinkinders.
Sy het in 1972 met haar haarkappery begin en intussen vele kursusse voltooi. “Ek is nie bang vir wat voorlê nie, maar ek is benoud vir die onbekende. Maar die Here sê Hy red jou uit jou benoudheid; ek loop die pad met die Here.”
Al is dit nog nie bevestig nie, vermoed die dokters dat sy dalk kanker het.
“Ek glo dis net ‘n infeksie en nie kanker nie,” sê Elmarie.
Die dans vind Vrydag 28 Februarie by Bolivia Lodge om 18:00 vir 18:30 plaas. Kaartjies kos R100 per persoon en sluit ‘n ligte ete in. Daar sal ook ‘n kontantkroeg beskikbaar wees.
Vir meer inligting kontak Nici Vogel by 073 222 9078 of 078 706 3230, of Leselle Kruger de Beer by 083 446 0172. Daar is ook ‘n Facebook-groep gestig naamlik Lig vir Elmie.



