Chantelle se maats gesels oor haar innemendheid
Chantelle van Staden, die gr. 7-leerder van Oosskool wat Sondag haar stryd teen infeksie na 'n spinnekopbyt verloor het, se plek is stil.
POLOKWANE – Chantelle van Staden, die gr. 7-leerder van Oosskool wat Sondag haar stryd teen infeksie na ‘n spinnekopbyt verloor het, se plek is stil.
Maar vir haar klasmaats het dié jong vegtertjie groot en goeie herinneringe gelos.
“My hart wil jou nie los nie, maatjie. Ek wens net dit was nie jy nie. Ons gaan jou vreeslik mis, maar ons weet jy is nou in ‘n beter plek. Lief jou en mis jou baie,” skryf Tianie Maritz.
Michelle Coetzee skryf: “Jy was so (‘n) sterk mensie, Chantellie en ‘n wonderlike vriendin. Gaan jou so baie mis. RIP en geniet dit saam (met)Liewe Jesus.
“Chantelle dankie vir alles, ons gaan jou laggies, geselsies en wonderlike vriendskap baie mis, maar jy sal altyd in ons hartjies bly,” skryf Desine Jooste.
Monique Schmidt skryf: “Chantelle, Jesus het jou kom haal om by hom te woon, ons weet jy is veilig by Hom. Ons gaan jou baie mis.”
“Die Here is jou lig en Hy lei jou. Die Here sal jou beskerm en jy sal altyd in ons harte wees en daar sal ‘n groot gat in ons harte wees,” skryf Carien en die gr. 7I-klas.
Iante Kritzinger skryf: “Jy was altyd opreg, eerlik, lojaal en liefdevol. Eienskappe in ‘n vriendin wat ek nooit sal vergeet nie. Ons vriendskap was ‘n lewensreis en jy een flambojante maatjie.”
Oosskool se waarnemende hoof, Lizette Olivier, het Maandag gesê Chantelle se verlies word ver gevoel: “Chantelle se plek is leeg by die skool, maar die herinneringe en liefde is vol in ons gedagtes en ons harte. Chantelle se innemende persoonlikheid en sagte glimlag sal ons altyd bybly. Mag jy sag rus by Jesus se voete”.
• Chantelle is sowat ‘n maand gelede in die hospitaal opgeneem vir lyfseer en infeksie na wat dokters en haar ouers glo ‘n spinnekopbyt was.
Na sy begin kla het oor lyfseer is sy dokter toe, waar sy medikasie gekry het teen bosluiskoors en spinnekopbyte. Sy het die medisyne gedrink, maar die pyn het nie weggegaan nie en haar voet het begin blou raak, het haar pa, Braam van Staden, vertel. Sy is by Mediclinic Limpopo opgeneem en na ‘n week ontslaan. Haar toestand het versleg en sy is by Unitas in Pretoria opgeneem.
Teen dié tyd was haar been blou en koud, en haar voet sonder ‘n pols. Sy is in die intensiewesorgeenheid opgeneem. Daar is gehoop bloedverdunners sou die bloedsomloop na haar voet herstel. Dit, en ‘n operasie om die are te probeer oopmaak, was onsuksesvol. Die weefsel in haar voet kon nie gered word nie en sy het erge infeksie gehad.
Haar linkerbeen is hierna onder die knie geamputeer, en Saterdag ook haar regtervoet.
Chantelle is voor driejarige ouderdom met tipe een diabetes gediagnoseer en outo-immuunhepatitis wat haar immuunstelsel verswak.
Chantelle se roudiens word op Vrydag om 10:00 vanuit die N.G. Kerk Bendorpark gehou. Haar pa het sy dank uitgespreek vir almal se gebede, SMS’e, liefde en ondersteuning, “ons waardeer elke boodskap opreg”.



